Local news

Issie besit ‘n skatkis propvol mooi goed

Haar hart is in haar winkel wat enig in sy soort is in Nigel. Sy kan vir jou ‘n staaltjie van elke item vertel.

Soms ontmoet ‘n mens iemand in jou lewe wat so ‘n groot impak maak, dat jy nie anders kan as om oor hulle te skryf nie. Issie Res is so persoon.

Sy is ‘n besondere mooi vrou wat nooit sonder grimering, juwele of ‘n lekkerruik dingetjie gesien sal word nie.
Issie het grootgeword op ‘n plaas in Maasstroom op die Botswana grens.

Haar man is skielik oorlede aan ‘n hartaanval en sy het daarna vir 30 jaar in Ellisras by haar kinders gebly.

Sy was vir lank alleen maar na agt jaar se vriendskap het sy met haar tweede man, Mario getrou en Nigel toe getrek waar hulle saam hulle droom uitleef.

Mario is lief vir bakstene en sement en het heelwat huise en woonstelle in die Nigel omgewing gebou wat hy uitverhuur.

Issie se jarelange droom om ‘n klein winkeltjie oop te maak het ook waargeword nadat Mario een van die huise wat hy gekoop het om te herstel in ‘n winkel vir haar omskep het.

Issie is lief vir mooi goed en vertel dat sy van kleins af enige iets wat mooi is bymekaar gemaak het.

Sy het ook by vendusies goed aangekoop soos sagte speelgoed, ou bababedjies, glaspotjies, ornamente of enige iets wat in ‘n geskenk omskep kan word.

Issie vertel dat sy as kind nooit pakslae gekry het nie.

“Ek was ‘n soet kind en het my besig gehou met my mooi goedjies wat ek versamel het,”

Haar jonkheid van liggaam en siel is in haar gene. Haar ma het tot op 90-jarige ouderdom geboer.

Issie het ook vertel van haar liefde vir naaldwerk. Sy het al haar dogters en kleindinders se matriekafskeid en dooprokke gemaak en op een slag tot 15 broeke vir haarself gemaak.

“Genoeg vir ‘n hele jaar se dra,” het sy vertel.

Haar hart is in haar winkel wat enig in sy soort is in Nigel.

Sy kan vir jou ‘n staaltjie van elke item vertel.

Daar is ook baie sentimentele items wat vanaf haar ma of oorlede vriendinne afgekom het en dit is beslis nie te koop nie.

Issie se winkel, Bella Bottega wat Lekker Winkel beteken, is ‘n ontdekkingsreis van oudhede en nostalgiese items tot hedendaagse geskenke en selfs materiaal en naaldwerkitems.

Daar word op die stoep van die winkel tee gedrink uit die mooiste koppies wat deel is van haar sentimentele versameling en as jy vir Issie kom kuier, sal sy altyd sorg vir ‘n lekker iets te ete.

Op 74 straal sy van geluk en vertel dat haar man, haar kinders, kleinkinders en al die mooi goed wat sy haar mee omring haar gelukkig maak.

Sy is dankbaar vir elkeen wat in haar glo en haar ondersteun.

Related Articles

Back to top button