Local news

Ueckermann nageslag trou in Heidelberg

Die Ueckermann gesin het Saterdag reg gemaak vir die groot dag by die Heidelberg Heritage Museum en met ‘n eg Duitse bier

Die stigter van Heidelberg, Heinrich Julius Ueckermann se nageslag was 11 Mei terug in Heidelberg vir die troue van Ueckermann se agter-agter-agter kleinseun en naamgenoot wat in die Klipkerk kom trou het.

In ‘n eksklusiewe onderhoud het Heinrich Julius Ueckermann op sy troudag aan die Heraut vertel watter besondere voorreg dit vir hom is om in die dorp wat deur sy groot oupa gestig is te kon trou.

Heinrich Julius Ueckermann, ‘n Duitser, het Heidelberg in 1862 as ‘n handelstasie gestig.

Hy het die area langs die Blesbokspruit as ‘n ideale plek vir besigheid beskou en het grond gekoop om ‘n huis en handelswinkel te bou.

Heinrich Julius Ueckermann en sy vrou Luzinda in Ueckermann straat nadat hulle in die Klipkerk getrou het. Heinrich is die agter-agter-agter kleinseun van die stigter en ikoon van Heidelberg van wie hy ook ‘n naamsgenoot is.
Fotokrediet: EJStudio

Die dorp is amptelik in 1866 geproklameer, en Ueckermann het ‘n beduidende rol in die ontwikkeling daarvan gespeel.

Omdat die omgewing hom goeie herinneringe aan sy universiteitsdorp gegee het, het hy dit Heidelberg herdoop.

Ueckermann was ‘n kundige en gerespekteerde figuur in Heidelberg en het ‘n aktiewe rol in die gemeenskap gespeel.

Hy was op sy tyd burgemeester en het ook Heidelberg in die Volksraad verteenwoordig. Ueckermann straat in Heidelberg is na hom vernoem.

Heinrich Julius Ueckermann wat Heidelberg in 1862 gestig het.

Hy is in 1883 oorlede en is in die Heidelberg Kloof begraafplaas begrawe.

Dit is met die ryk geskiedenis waarmee die Ueckermann familie groot geword het en die stigter en ikoon van Heidelberg, se naamgenoot en agter-agter-agter kleinseun, vas laat besluit het om in die dorp wat sy groot oupa gestig het te kom trou.

Heinrich het Saterdag in die Klipkerk die ja-woord gegee aan Luzinda en sy besondere verbintenis met die dorp beklemtoon.

Nog lede van die Ueckermann familie: Tiaan van der Merwe, Luzanne Smit en Heinrich Julius van der Merwe.

“Ek het groot geword met ‘n groot foto in ‘n raam van Heinrich Julius Ueckermann in my oupa se studeer kamer, en elke keer gevra wie die oom is net sodat ek weer die storie en geskiedenis kon hoor. Ek onthou hoe trots ek gevoel het elke keer as ek dit gehoor het,” het Heinrich vertel.

Heinrich het grootgeword op ‘n klein hoewe buite Vanderbijlpark en woon tans weer op dieselfde plek.

Hy en Luzinda was al die jare in dieselfde skole en het heeltyd geweet van mekaar maar nooit kontak gehad nie, tot Heinrich haar in 2022 ‘n boodskap gestuur het en weer begin gesels het.

“Alhoewel ek nie dieselfde trots as Heinrich kan deel nie, voel ek steeds geëerd en trots op hom as persoon en om te trou in die dorp wat sy voorvader gestig het,” het Luzinda, wat nou mevrou Ueckermann is, vertel.

Familie geskiedenis is vir Heinrich belangrik.

Die gedenkbord by Heidelberg Heritage Museum van Heinrich Julius Ueckermann.

“As jy weet wie jy is en waar jy vandaan kom, vorm dit jou identiteit en menswees.

“Die feit dat ek ‘n Ueckermann is en verwant is aan die stigter, laat my voel ek is tot alles in staat. As hy dit kon doen uit niks uit nie, is die uitdagings wat ek in die oë staar nie te groot om te oorkom nie,” het Heinrich gesê.

Die Ueckermann gesin het Saterdag reg gemaak vir die groot dag by die Heidelberg Heritage Museum en met ‘n eg Duitse bier het Willie Ueckermann en sy twee seuns Heinrich en Thomas ‘n heildronk ingestel op die dag se verrigtinge en veral op die ryk familie geskiedenis.

Daarna het almal na die Klipkerk vertrek waar die huweliksbevestiging plaasgevind het.

Die Ueckermann pa en seuns klink ‘n glasie op Heinrich se troue en veral op die ryk familie geskiedenis van die Ueckermanns in Heidelberg.

“Dit is ‘n groot voorreg om te weet dat ons nuwe begin en HJ Ueckermann se nuwe begin op dieselfde plek is.
“Vir ons beteken dit, dat maak nie saak watter uitdagings oor ons pad kom nie, soos Ueckermann en sy gesin met geloof in ons Skepper en harde werk sal ons dit ook oorkom,” het Heinrich vertel.

Sy grootste droom is om eendag ten minste een seun te hê wat hy met dieselfde familie naam en trots kan groot maak as waarmee hy groot geword het en sou die winde van die lewe hul in die rigting van Heidelberg waai, sal hy nie twyfel om hom hier te vestig nie.

“Ons sal bitter graag die De Rust gastehuis buite Heidelberg wil koop en omskep in iets mooi,”

Na die kerkdiens is daar foto’s geneem by verskeie mooi plekke in die dorp en Ueckermann straat was natuurlik nie oorgestaan nie.

Die Ueckermanns by Heidelberg Heritage Museum Saterdag 11 Mei waar die bruidegom Heinrich Julius Ueckermann reggemaak het vir sy troudag in die dorp wat hul voorvader gestig het. Hier staan Eddie Ueckermann (oom), Willie Ueckermann (Pa), Heinrich; die bruidegom en sy broer Thomas Ueckermann.

Related Articles

Back to top button