Local news

Nigel Tuiste vir Bejaardes verbind hulself tot versorging

Om betrokke te raak of vir meer inligting kontak Marlene Primo by 082 925 1571.

Die Nigel Tuiste vir Bejaardes bestaan reeds vanaf 17 Februarie 1973.

Met hul leuse ‘Verbind tot versorging’ glo die tuiste aan die fisiese, emosionele, geestelike en maatskaplike welstand van bejaardes.

Die tuiste het tans 65 inwoners en is ook besig om voorsiening te maak vir die semi-verswakte, verswakte en Alzheimer eenheid. Marlene Primo, maatskaplike werker by die tuiste, praktiseer as maatskaplike werker sedert Januarie 1980, en glo dat elke persoon die potensiaal het om te groei en te ontwikkel.

“As mens is ons almal deel van ’n sisteem en moet ons kennis, talente en middele gebruik om mekaar te ondersteun,” het Marlene vertel.

Dit is vir haar ‘n prioriteit dat bejaardes gestimuleer bly en Marlene sorg vir gereelde aktiwiteite, veral sensoriese aktiwiteite.

Marlene Primo, maatskaplike werker by Nigel Tuiste vir Bejaardes, het ‘n passie vir bejaarde sorg. Bo haar hang die ‘Gebed van ‘n Bejaarde’ wat haar na aan die hart lê.

“Sensoriese stimulasie terapie behels die gebruik van alledaagse voorwerpe soos blomme, kos of ou boeke om ‘n positiewe reaksie of gevoel te ontlok,” het Marlene verduidelik.

“Hierdie vorm van terapie het die potensiaal om seniors te help om hulself uit te druk en kan selfs aangename herinneringe en emosies opwek.”

Marlene het op die ouderdom van 11 jaar besluit dat sy maatskaplike werk gaan studeer.

“Die rede vir my beroepskeuse was om mense te help. Ek het egter reeds in my eerste studie jaar besef ’n maatskaplike werker se doel is om mense te help om hulle self te help. My fokus in die praktyk en by die tuiste is steeds op selfhelp, ontwikkeling en bemagtiging,” het sy gesê.

Marlene het vertel die gemeenskap is nou betrokke by die tuiste. Hulle besoek gereeld die bejaardes en verras hulle met vermaak en opvoerings.

“Ons is baie dankbaar teenoor die gemeenskap wat ons ondersteun en wil vrywilligers uitnooi om betrokke te raak,” het sy gesê.

Die potjies wat deur die inwoners geverf is as deel van die Nigel Tuiste vir bejaardes se sensoriese aktiwiteite.

Met die voorsiening vir die verswakte eenheid waarmee die tuiste besig is, is daar tans ‘n nood vir beddegoed. Met Moedersdag om die draai, is daar ook ‘n geleentheid vir vrywilligers om vir die dames te kom kuier, al is dit net vir ‘n geselsie.

“Mense het almal drome en stories om te vertel en daarom my passie vir bejaardesorg, met die fokus op spanwerk saam met die personeel en die gemeenskap,” het Marlene gesê.

Op 25 April hou die tuiste ‘n erkenningsgeleentheid vir al die vrywilligers wat nou betrokke is by die tuiste.

Om betrokke te raak of vir meer inligting kontak Primo by 082 925 1571.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button