Local news

Gemeenskap bring hulde aan vermoorde vrou

Linda Basson se lewelose liggaam is op 2 April in die huis ontdek waar sy saam met haar oupa en ouma gewoon het.

Vriende, familie asook belangstellendes het op 6 April in ‘n somber atmosfeer hulde gebring aan Linda Basson (29), wat op 2 April vermoor is.

Mense het blomme neergelê by ‘n wit kruis, wat opgerig is op die sypaadjie voor die huis in Gladiolastraat, Bergsig, waar Linda saam met haar oupa en ouma gewoon het.

Gedurende die tyd wat die Heraut teenwoordig was het talle lede van die gemeenskap opgedaag om blomme by die kruis te plaas.

Linda was volgens inligting baie betrokke by haar kerk en een van haar selgroep vriende, Kathlene Clarke het nie woorde gehad om te beskryf hoe die sinnelose daad haar en die res van hul selgroep raak nie.

Die gemeenskap het Saterdag opgedaag om blomme te plaas by ‘n wit kruis op die sypaadjie voor die huis, waar Linda Basson vermoor is.

“Linda was ‘n passievolle mens en sy was ‘n inspirasie vir ons elkeen,” het Kathlene gesê.

Linda se lewelose liggaam is op 2 April in die bad ontdek deur ‘n familielid en ‘n buurvrou.

Die familielid het op die middag by die huis aangekom en onraad vermoed toe die tafel waar Linda gewerk het onnet was. Dit is glo iets wat Linda nie geduld het nie.

Die familielid het haar buurvrou se hulp ingeroep waarna Linda se liggaam in die badkamer ontdek is.

Twee manlike verdagtes was later deur die SAPD in hegtenis geneem op ‘n kleinhoewe in Spaarwater.

Van die items wat glo uit die huis geneem is, is opgespoor waar die verdagtes dit na bewering verkoop het.

Linda Basson is op 2 April vermoor.

Die verdagtes het ook op 5 April aan die SAPD uitgewys waar hulle die hek se slot in die Blesbokspruit gegooi het.

Duikers van die SAPD het die slot uit die water gehaal op die plek waar dit aangewys is.

Die twee verdagtes is tans in aanhouding tot hul volgende hofverskyning.

Van die klagtes op die klagstaat is moord, inbraak, poging om opsetlik te beseer, regsverydeling en dwarsboming van die gereg.

Die moontlikheid dat nog klagtes bygevoeg kan word is nie uitgesluit nie.

Gerco Wagenaar, Mia Jordaan en Kathlene Clarke is lede van de jeug selgroep waarby Linda Basson ook atief betrokke was.

Related Articles

Back to top button