Vroue te hulp gesnel danksy noodgroep

Die vroue is beveel om op hul knieë te staan en stil te bly.

“Noodgroepe help vinnig en ek raai almal aan om by ‘n groep aan te sluit.”

Dít is die raad van ‘n vrou, wat een van drie slagoffers was tydens ‘n poging tot roof wat op 18 Maart in Schoemanstraat plaasgevind het.

Die betrokkenes het versoek om anoniem te bly.

Op 18 Maart omstreeks 14:30 het twee mans by hul besigheid te Schoemanstraat ingestap, waar die drie vroue werk, om aanvanklik navraag te doen oor sonkrag produkte.

Een van die vroue wou haar foon in die kantoor gaan haal om foto’s van die verskillende produkte aan die mans te toon.

Oppad na die kantoor, het twee mans oor die toonbank gespring, waarna een haar aan haar arm getrek.
Sy kon daarin slaag om los te ruk maar nog ‘n persoon het by die winkel ingestap.

Die vroue is beveel om op hul knieë te staan en stil te bly terwyl hul met ‘n wapen gedreig was. Een van die mans het omgedraai en daar was ‘n veilige gaping om vinnig ‘n boodskap op die GVE (Gemeenskapsveiligheideenheid) se WhatsApp noodgroep te stuur en die paniekknoppie te druk.

Die booswigte het daarna weggehardloop en die drie vroue is ongedeerd gelaat.

“Die GVE groep het baie vinnig gereageer,” het een van die vroue vertel.
“Binne twee minute was daar sowat 20 mense by ons.

“Dit was vir ons ‘n bewys van hoe die gemeenskap saamstaan en ons is baie dankbaar teenoor almal wat so vinnig kom help het.”

Die GVE WhatsApp groep bestaan reeds sedert 2021.

Sekuriteit maatskappye en lede van die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) is ook deel van die groep waar daar tans ongeveer 1 600 lede is.

Die groep administrateur is Thinus de Bruyn en kan gekontak word by 082 894 1130 om by die groep aan te sluit.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version