Kleur is lewe vertel Sandra

"Dit is my passie om vroue op te hef en te bemagtig."

Die Heraut leer ons mense ken en het met Sandra Taljaard, stylkenner en besigheidsvrou gesels.

Sandra en Koos Taljaard is in Heidelberg gevestig sedert 1997.

Koos is ‘n ingenieur en hulle het ‘n dogter Sammy wat in die onderwys is.

Sandra is nie onbekend in die dorp nie. Sy glo ‘n vrou moet altyd stylvol wees en dat styl ook van binne af kom.
Sy is ook internasionaal bekend as motiveringspreker, beeld-, styl- en modekenner en het haar opleiding in sewe verskillende lande bemagtig.

“Ek het koördineerders in vyf lande, insluitend die Verenigde Arabiese Emirate, Nieu-Seeland, Suid-Afrika, die Verenigde Koninkryk en Portugal.

“Dit is my passie om vroue op te hef en te bemagtig,” het sy vertel.

Sy is plaaslik betrokke by verskeie organisasies in die gemeenskap soos Helpende Hand, ATKV, FAK asook AfriForum.

Haar loopbaan het vroeg in haar lewe geskuif van maatskaplike werker na styl- en modekenner.

“Daar het ‘n roeping ontstaan uit my loopbaan as maatskaplike werker, waar ek die noodsaaklikheid besef het om vroue te bemagtig.

“Dit het ‘n passie-projek vir my geword. Ek het waargeneem dat daar ‘n gaping is in afronding en het toe begin met model- en afrondingskole.

“Dit het my gelei na ‘n loopbaan as voorkoms- en stylkonsultant,” het Sandra vertel en genoem dat dit ook hier was waar haar pad as motiveringspreker begin het.

In haar vrye tyd geniet sy dit om te skilder en speel ook graag klavier.Haar gunsteling kos is pasta en vrugte, veral waatlemoen en mango.

Sandra is ‘n kleurvolle mens en het vertel dat kleur vir haar lewe simboliseer.

Sy hou besonders van groen en pienk en helder kleure is beslis deel van haar klerekas.

Van die interessante dinge wat in haar loopbaan gebeur het, is toe sy ‘n Amiese vrou in Amerika ontmoet het en min of meer ‘n uur met haar deurgebring het, naas die vroulike parlementslid wat sy in Engeland kon aantrek.
Sy is gevra wat sy graag sou wou verander in die lewe en geantwoord, “Die feit dat ‘n mens ‘n lewe kan hê met minder lelik en seer, en dat ‘n mens in vrede kan leef met ‘n toekoms vir ons kinders en kleinkinders.”

Sandra se boodskap aan jong vroue is om nie hul standaarde en waardes te verlaag om by ander mense en norme in te pas nie.

“Dit is belangrik om nederig te bly, jouself te wees en natuurlik om altyd kleur in die lewe te geniet,” het sy mee afgesluit.

Exit mobile version