ATKV Heidelberg tak staan saam met gemeenskap

Sluit aan by ATKV Heidelberg tak.

Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) is reeds meer as 90 jaar gelede gestig met die primêre doel om taal, kuns en kultuur onder Afrikaanssprekendes te ondersteun en te bevorder.

Daar is nie sekerheid wanneer die Heidelberg tak gestig is nie, maar die oudste dienende lede is Fred en Walda Calitz wat alreeds die afgelope 15 jaar lede van die tak is.

Benewens verskeie aktiwiteite het die tak die behoefte om fondse in te samel vir talle organisasies wat bystand benodig. Die tak het in 2012 begin met liefdadigheidskonserte waarvan die opbrengste aan plaaslike organisasies geskenk was.

Kunstenaars wat opgetree het was onder meer Jannie Moolman en Rina Hugo, André Schwartz en Magdalene Minnaar, Von West en Ryan Watt, panfluitspeler en sy broer Steven Sterling.

Daar is tans 14 organisasies en individue, hoofsaaklik van Heidelberg maar ook van Balfour en Nigel wat gereelde skenkings van die tak ontvang.

Organisasies wat baatgevind het by die skenkings is Heidelberg Vereniging vir Bejaardes, Lesedi Community Centre, Sunfield Home Fortuna, AG Visser Laerskool, Laer en Hoër Volkskool, SANCA, DBV, Galaxy Kinderhuis, Born 2 Care, Mascindane. Verder het hulle ook rolstoele aangekoop, die Voortrekker monument ondersteun asook behoeftige gesinne.

Ander aktiwiteite van die tak sluit in ‘n gewilde vasvrareeks wat jaarliks gehou word.

Spanne ding mee teen mekaar en die jaarlikse wenspan kry aantreklike pryse. Die vasvrareeks was onder leiding van Sybie van der Spuy wat die vrae opgestel en ook as vasvrameester opgetree het.

Die tak het ook heelwat aktiwiteite gehad onder andere uitstappies na die Walter Sisulu Botaniese tuine in Roodepoort en het uitstappies gereël vir Galaxy Children Village, besoeke aan historiese plekke in Heidelberg en musiekmiddae gehou waartydens gewilde musiek gespeel is volgens lede se keuses. Daar was ook insiggewende praatjies oor boedel en testament beplanning.

Vir die komende jaar het die tak ‘n interessante program wat onder meer musiek blyspele insluit, Vrouedag vieringe en sal ook voortgaan met bydraes vir liefdadigheidsorganisasies. Die tak was reeds druk besig en het in Februarie die Voortrekker Monument besoek en was ook betrokke saam met die SAWV met die herstel van die historiese bruggie en sal ook betrokke wees by die Laerskool AG Visser se KameelFees van 24 en 25 Mei.

Die tak het op 4 Maart hul eerste bestuursvergadering gehou. Vir navrae, skakel Francois Furstenburg, voorsitter by 083 227 1522.

Exit mobile version