Local news

Ouers praat oor die dood van hul kinders

Die fases van rou is uniek vir elkeen wat 'n geliefde aan die dood afstaan.

In ‘n klein dorp soos Heidelberg, deel die gemeenskap mekaar se lief en leed en die afsterwe van ‘n geliefde is gewoonlik iemand wat die gemeenskap of geken of van geweet het; veral as dit ‘n kind se lewe is wat skielik weggeneem word.

Die gemeenskap van Heidelberg het al vele kere saam met familie en vriende gerou.

Die Heraut het met drie ouers gesels oor die pad wat hulle stap om hierdie hartverskeurende verlies te verwerk.
Elzona Meyer Els is ‘n welbekende paramedikus in die dorp.

Haar dogter Abé se lewe was op ‘n wrede manier beëindig nadat sy noodlottig geskiet was tydens ‘n motorkaping by haar huis op 9 Februarie 2018.

“Die verlies van ‘n kind is ‘n uitsonderlike unieke ervaring,” het Elzona vertel en bygevoeg dat sy staat maak op God, haar man en ondersteuningsnetwerk, wat bestaan uit ‘n paar goeie huisdokters, kliniese sielkundige en vriendinne wat die regte ondersteuning kan bied op sielkundige, geestelike en emosionele vlak.

“Ek het dit aanvanklik sekonde vir sekonde gevat en uiteindelik gegroei tot dag vir dag,” het Elzona bygevoeg.
Elsie Bothma wie se seun Dylan op 25 Junie 2023 oorlede is nadat hy ‘n partytjie bygewoon het, het vertel dat haar seun ‘n sonskynkind was en sy nie weet of sy dit ooit sal kan verwerk nie.

Elsie Bothma tussen foto’s en aandenkings van haar seun Dylan wat op 25 Junie 2023 oorlede is.

“Ek het vinnig besef dat my en ander se ervaringe elkeen uniek is en dat dit soms ‘n eensame pad kan wees,” het Elsie gesê. “Eers besef mens nie die werklikheid van die skokkende nuus nie en jy bid aanhoudend met die hoop dat dit nie waar is nie.

“Jou hele liggaam voel letterlik siek en jy sal enige iets op daardie stadium doen om plekke te kan ruil,” het sy vertel en bygevoeg dat sy daardie dag oor en oor beleef.

“Daar is niks wat die leemte ooit sal vul nie. Ek luister nog na al sy boodskappe op my foon net sodat ek sy stem kan hoor en op ‘n manier kan voel hy is nog by my,” het Elsie gesê.

Sy het verder vertel dat sy haarself isoleer na Dylan se dood.

“Die wêreld gaan aan, maar ek is nog nie gereed om hom te laat gaan en met my wêreld aan te gaan nie,” het sy gesê en bygevoeg.

“My dogter Shayne het op 10 Februarie die jaar getrou en sy plek was leeg. Die leemte is te groot en die pyn is soms ondraaglik.”

Lezanne Scholly, ‘n berader by die Lesedi Community Centre het genoem dat daar elke minuut sowat 105 sterftes in die wêreld is, dus 151 200 per dag.

As elke sterfte net lei tot die rouproses van drie mense, is daar 453 600 nuwe gebreekte harte elke dag.

Alhoewel rou dus ‘n baie algemene proses is, is elkeen se rou proses ‘n persoonlike en unieke reis.

Elzona Meyer Els saam met haar dogter Abé wat op 9 Februarie 2018 oorlede is.

Hierop het Elzona bygevoeg dat indien jy wel deur so rouproses gaan, moet jy sag wees met jouself.

“Ek het ‘n wilsbesluit geneem om nie morbied voort te gaan nie. Ek lag hard en huil hard wanneer my psige my toelaat om daar te gaan.

“‘n Mens moet soms moedswillig hartseer wees en soms moedswillig gelukkig wees. Die Here lei elkeen persoonlik op hierdie pad, daar is geen resep nie,” het Elzona gesê.

Volgens Lezanne is daar vyf fases van rou:

1. Ontkenning

2. Woede en emosionele ongemak

3. Onderhandeling (jy sou enige iets wou doen om die situasie te verander)

4. Depressie

5. Aanvaarding

“’n Mens hoop dat hierdie ‘n baie duidelike stap vir stap proses is wat mens kan deurwerk, maar die waarheid is dat ‘n mens dikwels gaan rond spring tussen die verskillende fases,” het Lezanne verduidelik.

Marlize Kleynhans se seun Juandré is op 30 Desember 2023 in ‘n motorongeluk oorlede.

Sy het vertel dat sy verseker nog in die ontkenningsfase is.

“Ek gaan soek hom nog in sy kamer en maak selfs vir hom koffie in gedagte net om te besef hy is nie meer met ons nie,” het Marlize vertel wat haar ma, haar broer en haar seun in dieselfde jaar aan die dood afgestaan het.
“Die dood is so finaal en as jou kind so skielik weg geneem word, kry jy nie kans om afskeid te neem nie. Daar is soveel vrae waarvoor ek nooit antwoorde sal vind nie.

“Ek mis hom baie. Hy was sy sussie Lezaan se steunpilaar en ons beide vat dit nog baie swaar,” het Marlize gesê.
“Die dood en verlies van ‘n kind kan verwoestend wees en om die diep verlies van jou kind te verwerk is uiters hartseer,” het Lezanne verduidelik.

“‘n Professionele persoon kan jou begelei om deur hierdie fases te werk en te hanteer. Elke mens rou op hul eie manier. Party praat daaroor, ander huil in die nag. Dit vat tyd en niemand kan vir die geliefdes wat agter bly sê hoe lank hulle mag rou nie,” het Lezanne mee afgesluit.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button