Local news

Geliefde dokter tree af na 43 jaar

Die Snyman-egpaar beplan nie om die dorp te verlaat nie maar sal voortaan meer tyd by hulle strandhuis in Stilbaai deurbring.

Dr Hannes Snyman (74) groet na 43 jaar as algemene praktisyn in Heidelberg sy pasiënte wanneer hy op 29 Februarie finaal sy stetoskoop ophang en aftree.

Snyman was nie net bekend as algemene praktisyn nie, maar sal veral onthou word vir die werk wat hy in die gemeenskap verrig het.

Hy het vir 18 jaar op die bestuursrade van Laer Volkskool as voorsitter en ook Hoër Volkskool gedien en was veral nou betrokke by die finansiële deel van die model C skole oorgang.

In 1988 was hy tot die stadsraad verkies waar hy in 1988 tot 1989 as onder burgemeester gedien het en in 1990 tot 1991 as burgemeester.

Met sy volle termyn in die stadsraad tot na die oorgangsraad in 1994 was hy ook lid van die raad se bestuur.

Snyman kan ook as die stigter van die Suikerbosrand Kliniek beskou word. Hy het na vele onderhandeling met die Departement van Gesondheid en later selfs met die minister van gesondheid dit reggekry om in 1997 in vennootskap met die Afrox gesondheidsgroep die kliniek te begin bou.

Snyman het saam met Mike Flemming, die destydse hoof uitvoerende beampte van die Afrox groep die opening van die Suikerbosrand Kliniek waargeneem.

Op 26 April 1998 het hy die eerste operasie in die Suikerbosrand Kliniek gedoen.

Snyman en sy vrou Ina sal dié jaar hul 50ste huweliksherdenking vier.

Hul vier kinders het in laer en hoër Volkskool skool gegaan.

Johann is vandag ‘n oftalmoloog, Marzanne ‘n tandarts, Nicolene ‘n prokureur en Loilyn ‘n grafiese ontwerper.
Ina was ook bekend in Heidelberg waar sy meer as 100 meenthuise in verskeie komplekse ontwikkel het en sal onthou word vir die rondrits in die dorp met haar bakkie met boumateriaal en honde op.

“Ek en my vrou groet met ‘n traan teenoor die welwillende gemeenskap van Heidelberg en is dankbaar vir al ons seëninge van Bo,” het Snyman gesê.

“Ons wens die gemeenskap alle seën toe.”

Hulle beplan nie om die dorp te verlaat nie, maar sal voortaan meer tyd by hulle strandhuis in Stilbaai deurbring.

Related Articles

Back to top button