Local news

Prontuit: Gemeenskap is in goeie hande met Nigel se stasiebevelvoerder

Droskie wat in Springs grootgeword het, staan vir niks terug nie.

Die Heraut leer die gemeenskap ken en het dié week met Louise Droskie, stasiebevelvoerder van die SAPD Nigel gesels.

Luitenant Kolonel Louise Droskie (46) het in 1998 by die polisie aangesluit.

Sy is vanaf Oktober 2023 die stasiebevelvoerder by SAPD Nigel en vertel dat sy bekend is met Nigel aangesien sy haar diens in 1999 daar begin het.

Droskie, wat in Springs grootgeword het, staan vir niks terug nie en haar pad in die polisie het haar op ‘n jong ouderdom gevat na die hoë reaksie eenheid in Brakpan en Katlehong, waar sy een van twee vrouens was wat die gevaar van hoë profiel misdaad daagliks beleef het.

Sy was daarna ook werksaam in SAPD in Springs, Tsakane en Duduza.

Haar inspirasie om by die polisie aan te sluit, het vanaf haar ouer suster gekom.

“Ek was altyd aan my sussie se sy tydens werk en het van Graad Agt geweet dat ek by SAPD wil aansluit,” het Droskie vertel.

“Dit moet nooit net ‘n werk wees nie, maar eerder ‘n passie vir mense en vir die gemeenskap,” het sy bygevoeg.
Haar deelnemende bestuurstyl beklemtoon dié denke en sy glo goeie diens moet erkenning kry.

“Oor die jare het daar baie dinge in die SAPD verander, maar wat staande bly is ons diens teenoor die gemeenskap. Ons moet die verandering wees wat ons wil sien en dit is wat ek verwag van my span ook,” het sy gesê.

In haar opinie is haar sukses by Nigel SAPD tot dusvêr te danke aan haar passie om uitdagings te aanvaar en aan te pak.

“Ons het hard gewerk om die stasie beter te laat lyk, die lede se moraal is beter en ons almal werk saam as ‘n span,” het sy bygevoeg.

Sy glo aan die ‘paying it forward’ konsep.

“Die gemeenskap kyk op na ons. As ons iemand wat Nigel SAPD besoek het met ‘n geruste hart kan huis toe stuur of iemand langs die pad kan help om ‘n wiel om te ruil, lewer ons ‘n diens wat deur die gemeenskap waardeer word. As jy waardering wys en waardering gee, motiveer dit almal om ‘n beter diens vir die gemeenskap te lewer,” het sy gesê.

Haar doelwitte vorentoe is om Nigel veiliger te maak en die gemeenskap ingelig te hou.

“Ons is baie besig met misdaad waar drank en dwelms betrokke is. Ons doen gereeld uitreik projekte by skole onder andere om mense in te lig van die gevare. Daar sal altyd uitdagings wees, maar saam kan ons ‘n verskil maak,” het sy afgesluit.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button