Local newsSchools

Hoërskool John Vorster is die top skool in Ekurhuleni

Die besondere prestasies is met 'n gees van dankbaarheid ontvang.

Die Hoërskool John Vorster se 2023 matrikulante het puik resultate gelewer en die skool spog nie net met 100% slaagsyfer nie, maar is ook as die top skool in Ekurhuleni aangewys.

Vossieland is die enigste openbare, gewone hoërskool in die Ekurhuleni- en Gauteng-Oos distrik wat hierdie besondere prestasie behaal het.

Die skool het onlangs ‘n trofee van die Stad van Ekurhuleni se burgemeester, Sivuyile Ngodwana ontvang.

Hoërskool John Vorster was ook in 2020 die enigste skool in Gauteng-Oos wat ‘n 100% slaagsyfer behaal het.

“Dit is voorwaar die beste prestasie wat ‘n skool akademies kan bereik,” het die trotse hoof, Jan Nienaber, aan die skoolgemeenskap gesê.

Hy het bygevoeg: “Dit is ‘n bewys dat geen ouer in Nigel sy of haar kind buite die dorp na ‘n skool hoef te stuur nie, want die beste skool is op die voorstoep!”

Gelukwensing het van oral oor ingestroom en erkenning is aan alle partye gegee wat bygedra het tot hierdie indrukwekkende prestasie.

Die Graad 12-leerder wat individueel besonders presteer het, was AJ Cronje wat ‘n tweede plek in Gauteng-Oos Distrik behaal het met agt A-simbole (Afrikaans Huistaal, English First Additional Language, wiskunde, fisiese wetenskap, inligtingstegnologie, elektronika, ingenieursgrafika en -ontwerp en lewensoriëntering) en hy is agste in die Ekurhuleni-distrik.

AJ Cronje het die tweede plek in Gauteng-Oos distrik behaal het met 8 A-simbole.

Nie alleen het die 2023 matriekgroep skitterend presteer nie, maar erkenning is ook tydens ‘n glansgeleentheid deur die distrik aan drie van die personeellede gegee.

Die toekennings vir beste onderwysers in Gauteng-Oos het gegaan aan:

• Chris Gryffenberg (elektronika). Hy het al verskeie kere hierdie toekenning ontvang.

• Klarinda Stander (wiskunde). Hierdie is die tweede agtereenvolgende jaar dat die wiskunde departement hierdie toekenning ontvang.

• Christo Yssel (inligtingstegnologie) maak sy debuut met hierdie toekenning.

Nienaber het die toegewyde onderrig wat hiermee beloon is, beklemtoon deur te sê: “Hierdie prestasie mag nie ongesiens verby gaan nie. Nigeliete moet met erns hiervan kennis neem.”

Hy het bygevoeg dat dit ‘n langtermyn projek is wat vrugte afgewerp het.

“Ek glo dat elke Graad 12-prestasie reeds vroeg in ‘n leerder se lewe begin en daarom wens ek ook elke laerskool wat betrokke was in die vorming en onderrig van hierdie leerders hartlik geluk.”

Die besondere prestasies is met ‘n gees van dankbaarheid ontvang.

“Alle eer aan ons Skepper en Hemelvader wat Sy genade daagliks oor ons uitstort en ons as skoolgemeenskap bemagtig,” het Nienaber tydens die oorhandiging van die uitslae gesê.

“Baie geluk aan elke ouer van die 2023 Graad 12-klas. Ons waardeer u elkeen en ons is dankbaar dat u, u kinders in ons hande geplaas het,” het hy bygevoeg.

Related Articles

Back to top button