Local newsSport

Heidelberg atleet is ASA se sportpersoonlikheid van die jaar

Die plaaslike sporttalent van Heidelberg, Wiepke Schoeman is onlangs gekroon as die sportpersoonlikheid van die jaar.

Atletiek Suid-Afrika (ASA), die nasionale beheerliggaam van atletiek in Suid-Afrika, het tydens ‘n glansgeleentheid op 26 Januarie dié aankondiging gemaak.

Bekende name soos Wayde van Niekerk, Zeney van der Walt en Gerda Steyn was ook genomineer.

“Ek was oorweldig toe my naam geroep is en dit is ‘n groot eer om die toekennig te kon ontvang,” het Wiepke vertel.

Wiepke was ook uitgewys as een van die top genomineerdes vir die mees belowende vroue atleet van die jaar.

Sy is die enigste kind van Francious en Lienke Schoeman, inwoners en besigheidseienaars in Heidelberg, en sal op 29 Junie haar 18de verjaarsdag vier. Sy is tans besig met haar matriekjaar aan die Hoërskool Zwartkop te Pretoria waar sy ‘n beurs gekry het nadat haar sport vernuf al van haar laerskool jare af dopgehou was.

Wiepke Schoeman by Atletiek Suid Afrika se spoggeleentheid op 26 Januarie waar sy gekroon is as die sportpersoonlikheid van die jaar.

Francois vertel dat hy Wiepke in Graad Drie by die skool gaan haal het en sy hom gesê het sy kan nie huis toe gaan nie want sy moes atletiek oefen.

“Die atletiek seisoen was toe al reeds verby en Wiepke het nog haar netbal tekkies aangehad. Onbewus van haar talent, het ek haar gevat om atletiek te gaan oefen en sy het aangesluit by die Arno’s Racers atletiekspan in die dorp,” het Francois gesê.

“Ek kan onthou dat ek baie deelgeneem het aan kompetisies maar nie baie gewen hiet nie. Dit het my gemotiveer om harder te oefen en so het my tye begin verbeter,” het Wiepke vertel.

Haar afrigters Elmien Coetzee-Engelbrecht en haar man Willie het Wiepke se talent raakgesien en geweet dat die blou-oog, sprankelende en nederige dogter van Heidelberg nog groot naam gaan maak in die atletiekwêreld.

Wiepke Schoeman is op 26 Januarie gekroon as die sportpersoonlikheid van die jaar.

“Mens moet nooit vergeet hoe hard sy gewerk het om te kom tot waar sy vandag is nie,” het Willie gesê.

“Daar is baie mense wat vir hulle doelwitte stel en dan opgee as hulle sukkel om dit te bereik.

“Met Wiepke is dit anders, Sy is doelgerig om hoogtes te bereik maar sy bly nederig omdat sy weet dit gaan nie altyd net oor wen nie,” het hy bygevoeg.

“Ek het haar tydens ‘n oefenkamp in haar Graad Sewe jaar leer ken as ‘n baie stil en teruggetrokke kind maar verseker gefokus.

“Ons het nog altyd geglo in haar vermoë maar sy het ons totaal verbaas toe sy in haar Graad Nege in die SA Kampioenskappe ‘n derde plek behaal het,” het Willie gesê.

“Ons is geweldig trots op haar. Nie net oor die resultate wat sy bereik het tot dusvêr nie, maar op die dame wat sy geword het,” het Lienke, haar ma gesê. Sy het ook vertel van Wiepke se absolute liefde vir mense en gesê die mooiste eienskap van haar dogter is haar nederigheid.

Sy kan onthou tydens ‘n byeenkoms in laerskool het Wiepke soms toegelaat dat die ander kinders haar wen, want sy wou nie gehad het hulle moes sleg voel nie.

Haar mooiste eienskap volgens haar pa, is haar saggeaardheid en doelgerigtheid. “Sy was nog altyd gefokus, gedissiplineerd met goeie waardes.”

Wiepke is ook gekies vir die Suid-Afrikaanse landloopspan wat vanjaar op 30 Maart aan die Wêreld Atletiek Landloopkampioenskappe in Belgrade, Serbië gaan deelneem.

Wiepke Schoeman glo om gefokus en doelgerig te bly.

“Sy het goeie ondervinding en weet wat om te verwag. Ons glo sy gaan uitstekend vaar,” het Willie, wat ook as die SA spanafrigter aangestel is gesê.

Toe Wiepke gevra is wat haar boodskap is aan enigeen wat ‘n sport beoefen en doelwitte stel, het sy gesê: “Moet nooit opgee nie. God het ons almal so lief dat Hy vra jy moet jou hoop op Hom sit en jy sal hardloop en nie moeg word nie.

“Ek sê altyd vir myself: Ek kan, ek sal en gaan want ek wil. Jy moet dit net doen as jy dit geniet. Bly gefokus op jou doelwit en hou jou oë na bo,” het sy gesê.

Related Articles

Back to top button