Heidelberg se Grill King onder top 100 restaurante in SA

Grill King is vir die afgelope tien jaar baie gewild onder Heidelberg inwoners maar mense ry ook van ver om die eetplek te besoek.

Grill King in Heidelberg is bekend vir hul groot en sappige burgers en die gesogte restaurant kan nou ook spog met ‘n groter prestasie.

Grill King is onlangs, in die kategorie vir restaurante, kroeg en wegneemetes onder die top vyf deur die Restaurantvereniging van Suid-Afrika (RASA) met ‘n Rosetta-toekenning vereer en is verder onder die top 100 restaurante in Suid-Afrika vir 2023.

RASA is gestig met die doel om as die amptelike stem op te tree en die belange van Suid-Afrikaanse restaurateurs te verteenwoordig.

Die Rosetta-toekenning word deur RASA aan restaurante wat streef na uitnemendheid in die restaurantbedryf gegee.

Dit is erkenning vir uitnemende diens en algehele bydrae tot die opheffing van die restaurantbedryf.

Die Heraut het by die eienaar van Grill King in Heidelberg, Dewet van der Walt en sy vrou Elena gaan aanklop.

“Ons is mense wat baie lief is vir kos maak. Ons glo dat jou passie vir kos maak in jou kos geproe moet word,” het Dewet vertel.

Dewet van der Walt met die Rosetta toekenning by sy restaurant, Grill King in Heidelberg.

Grill King is vir die afgelope tien jaar goed bekend onder Heidelberg inwoners maar Dewet het trots gepraat van mense wat van so ver as die Kaap af ‘n draai kom maak om sy gesogte 140g egte beesvleis burger te kom geniet.

“Ons is dankbaar vir almal wat ons ondersteun. Ons is hier om te bly en het onlangs ons tweede tak in Boksburg geopen en kyk ook tans na konsessie-geleenthede,” het hy gesê.

Om ‘n Rosetta toekenning te ontvang, word restaurante se nominasie grootliks gebaseer op uitmuntende kos maar ook op uitstekende diens, promosie en bemarking, hoeveel kliënte die restaurant besoek en hoe ver hul naam versprei is.

“Ons kry selfs besoekers wat van oorsee af kom. Filantrope en evangeliste wat werk doen in Heidelberg en omliggende omgewing, weet van ons en dit is vir ons altyd ‘n eer om hulle te verwelkom.” het hy vertel en het bygevoeg dat om ‘n Rosetta toekenning te ontvang, voel vir hom soos ‘n Grammy-toekenning.

Dewet en Elena het twee kinders, hul oudste dogtertjie, Danielle (5) het die jaar in Graad R begin en die jongste blou voetjie, Hendrick-DeWet is sewe maande oud.

“Ons is ‘n hegte familie en het ‘n liefde vir mense. Om kos te maak en mense te bedien is waar ons harte lê. Ons het personeel wat al vir jare by ons werk omdat hulle ons passie deel,” het Dewet gesê.

Restaurante kan nie vir die gesogte toekenning inskryf nie en word genomineer deur kliënte wat by RASA kommentaar lewer.

“Om onder die top 100 restaurante erken te word en top vyf in ons kategorie te wees is ‘n groot eer en ons is opreg dankbaar aan elkeen wat bygedra het tot hierdie prestasie,” het Dewet afgesluit.

Vir enige een wat belangstel in die restaurant bedryf, is Dewet se boodskap om nooit moed op te gee nie, bly kreatief met jou spyskaart sodat kliënte nie verveeld raak nie, lewe jou passie vir kos uit en lewer altyd diens van die hoogste gehalte.

Exit mobile version