Local news

Prontuit: Verliefdheid is ‘n wapen teen die ouderdom

Tannie Anna glo dat haar haar sin vir humor haar jonk hou.

Die Heraut leer ons mense ken en het die week met tannie Anna Jordaan (97) gesels.

Sy is die oudste inwoner by die Suikerbos-oord Vereniging vir Bejaardes en glo dat jy elke dag mooi moet aantrek en dat ‘n mens nooit alleen koffie moet drink nie.

Sy is in die Vrystaat gebore en het in Clocolan skool gegaan waar sy nog voor sy 16 jaar oud was, gematrikuleer het.

Na haar matriekjaar het sy staatsdiens eksamen gaan skryf en as gevolg van haar uitstekende punte, was sy aangestel by die Kommissaris van Binnelandse Inkomste waar sy vir vier jaar gewerk het.

“Ek was twee keer getroud, maar ek dink die tweede huwelik was dalk ‘n fout,” het Tannie Anna met ‘n oog-knip vertel.

Sy glo dat haar sin vir humor haar jonk hou en vertel dat sy altyd die snaaks in elke situasie raaksien.

Sy het met trots gesels oor haar drie seuns en twee dogters.

“Ek kan nie meer so goed onthou nie, maar ek dink ek het ses kleinkinders en vyf agterkleinkinders,” het sy vertel.

Tannie Anna het vir meer as 40 jaar in die motorbedryf gewerk in Pretoria waar sy begin het as ‘n aflosklerk in die finansiële afdeling en het uitgetree in haar laat 80’s op ‘n direkteursvlak.

“Ek was goed met somme op my tyd en het elke oomblik daarvan geniet. Ek kan selfs nog my ID nommer onthou, al weet ek nie waar my ID boekie is nie.”

Toe Tannie Anna gevra is wat haar geheim is om op 97 nog so goed te lyk het sy geantwoord:

“Ek moes baie dokters sien deur my jare en het elke keer op my dokter verlief geraak. Die dokters in Heidelberg is nie net slim nie maar hulle almal is so mooi.

“En om verlief te wees, hou jou jonk en natuurlik, terwyl ek nog kon, het ek elke aand ‘n glas whiskey geniet, maar net goeie whiskey.”

Sy het genoem dat die personeel by die oord mooi na haar kyk en dat die inwoners baie vriendelik is.

“Ek sal, as die Here my spaar, op 12 Mei, 98 jaar oud word en sien uit na ‘n heerlike sjokolade koek,” het sy afgesluit.

Tannie Anna is verseker nog jonk van gees en met haar sin vir humor hou sy almal op hul tone.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button