Local news

Earth Owl en Nigel Rotariër Klub groei saam

Murgpampoen, groenboontjies, verskeie pampoensoorte, kool, spinasie, tamaties en soetrissies is van die groente waarmee hulle spog.

Earth Owl het in 2018 sy ontstaan gehad met Roche Pepler en Santana Pestana, wat met slegs R250 op ‘n klein stukkie grond ‘n organiese boerdery begin het.

Vandag kan hulle terugkyk na die arbeid van hulle handewerk en deursettingsvermoë.

“Ons het besef dat ons land ‘n groot nood het en dat daar baie werklose mense is wat honger ly,” het Pestana vertel.

“Ons het die korporatiewe wêreld gelos en besluit om iets onselfsugtig te doen wat die gemeenskap kan help om te fokus op volhoubare metodes om kos op die tafel te sit.”

Bea Lubbe en Roche Pepler van Earth Owl deel ‘n passie vir die natuur en is trots op die voedingsryke groente wat hulle elke maand kweek.

Hulle het ‘n eksperiment begin met ‘n wurmplaas.

Met die wins van kompos vanaf die wurmplaas kon hulle hul eerste saailinge koop en ‘n eerste stukkie land begin bewerk, wat binne twee jaar soveel uitgebrei het dat hulle vandag ongeveer twee ton groente kan groei.

Die wenspan, wat nou uit drie vroue bestaan, Roche Pepler, Santana Pestana en Bea Lubbe het almal ‘n passie vir die mens, dier en natuur en hul visie is om ‘n volhoubare impak te maak, veral vir minder bevoorregte gemeenskappe.

Met Pepler se bemarking en besigheidsbestuur agtergrond en Pestana sin in chemiese ingenieurswese, het hulle koppe bymekaar gesit om ‘n magdom groente te kweek binne seisoen.

Santana Pestana van Earth Owl wys die spinasie wat hulle gekweek het. Earh Owl skenk ongeveer 1.5 ton groente aan verskeie organisasies en minder bevoorregtes elke maand.

Murgpampoen, groen boontjies, verskeie pampoensoorte, kool, spinasie, tamaties en soetrissies is van die groente waarmee hulle spog.

Ongeveer 1.5 ton van hul groente word maandeliks geskenk aan organisasies soos kinderhuise, ouetehuise, kerke, sentrums vir gestremde persone en privaat huishoudings.

“Vir ons is dit ‘n roeping en ‘n passie wat ons daagliks uitleef,” het Pepler gesê.

“’n Mens besef nie die impak wat goeie voedingsryke kos op jou liggaam het en die verskil wat dit kan maak vir ‘n kind se groei nie,” het sy bygevoeg.

Die Nigel Rotariër Klub het vir die eerste keer in 2022 met Earth Owl hande gevat om te help met die oortrek van hul groentetonnel.

Die Nigel Rotariër klub het hande gevat met Earth Owl deur te help met ‘n groentetonnel in 2022 en weer in 2023 met watertenke, druplyne en ‘n waterpomp. Bea Lubbe en Santana Pestana wys saam met die lede van die Nigel Rotary klub, Con Keyser en Maurizio Pellizzon van die groente wat hulle suksesvol kan kweek.

In 2023 het die klub ‘n verdere bydrae gemaak vir watertenks, druplyne en ‘n waterpomp.

“Uit die tonnel produseer ons die meeste van die groente wat ons skenk,” het Pepler verduidelik.

“Dit help dat ons nie skade lei nie en ons ‘n beter kans staan om kwaliteit groente te kan groei sonder insek- en natuurlike skade.

“Die druplyne en besproeiingstelsel verseker dat ons deur droeër seisoene kan groei sonder om bekommerd te wees oor reënval, asook om met gemak in die winter te kan groei op ‘n groter skaal,” het Pepler bygevoeg.

“Ons is uiters dankbaar teenoor die Nigel Rotariër Klub vir hul bydrae en glo dat ons saam kan groei om ‘n groot verskil te kan maak,” het Pepler gesê.

Die watertenk wat Earth Owl met die hulp van Nigel Rotariër klub kon bekom om selfs in droeër seisoene steeds hul groente suksesvol te kan kweek.

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button