Local news

PRONTUIT: Roetine kweek dissipline

Sy doelwit vir die jaar is om te verseker dat dissipline gehandhaaf word en dat alle aktiwiteite by die skool vlot verloop.

Die Heraut leer ons mense ken en het dié week op die eerste dag van die nuwe skooljaar met Victor Kalp, adjunkhoof van Laerskool Tini Vorster gesels.

Victor (31) is ‘n Vossie deur en deur.

Hy het self aan hierdie laerskool skoolgegaan en na sy studies in 2012 daar as studente onderwyser begin.

Victor het gedurende 2023 ingestaan as adjunkhoof en beklee nou amptelik hierdie pos.

Hy is getroud met Leneace en hulle het ‘n tweejarige seuntjie. Leneace is ‘n onderwyseres by Laerskool Hannes Visagie.

“Ons geniet dit om te gesels en idees oor onderwys as beroep uit te ruil, maar daar is nooit enige kompetisie nie omdat ons beide ewe trots is op ons skole,” het Victor vertel.

Sy doelwit vir die jaar is om te verseker dat dissipline gehandhaaf word en dat alle aktiwiteite by die skool vlot verloop.

“Dit is vir my belangrik om die ouers betrokke te maak by die skool, leerders te motiveer op alle vlakke en dit is net so belangrik om te sorg dat die onderwysers gemotiveerd bly,” het hy vertel.

Die skool se leuse ‘Saamstaan en bou’ is vir hom die grondslag waarop alles by die skool aangepak word.

“Elkeen hier staan saam, werk saam en bou saam aan die sukses van die skool,” het Victor gesê.

Toe hy gevra is wat sy visie vir die nuwe skooljaar is, was sy antwoord.

“Wees konsekwent, want roetine kweek dissipline.”

In sy vrye tyd geniet Victor ‘n rondte gholf en is ook baie lief om ‘n vissie of ‘die ou grote’ uit die water te trek.

Onderwys is sy passie en sy langtermyn visie is om eendag as ‘n skoolhoof aangestel te word.

Vossies is verseker trots op hul geliefde meneer Kalp.

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button