Tannie Annetjie vier 100 goeie jare

Die Nigel Tuiste vir Bejaardes het op 24 November vir haar 'n verjaarsdagpartytjie gehou.

‘n Inwoner van die Nigel Tuiste vir Bejaardes, Annetjie Unterhorst, het op 24 November haar 100ste verjaardag gevier.

Die Tuiste, met die samewerking van Solidariteit Helpende Hand en verskeie ander rolspelers het vir Tannie Annetjie (soos sy bekend is) ‘n vrolike verjaarsdagpartytjie gehou.

Nigel Tuiste vir Bejaardes bestuurder, Johan Janse van Rensburg, het tydens die onthaal gesê daar is baie uitdagings wat elke persoon in die lewe ervaar.

Nigel se Tuiste van Bejaardes se bestuurder, Johan Janse van Rensburg.

“Wees reg en aanvaar jou uitdagings.

“Tannie Annetjie het drie titels waarmee sy nou kan spog.

“Eerstens is sy die kleinste persoon in die tehuis, tweedens is Tannie Annetjie nou die inwoner wat vir die langste tydperk in die tuiste woon en derdens is Tannie Annetjie ook nou die oudste inwoner,” het Janse van Rensburg afgesluit.

Een van die koeke wat geskenk was.

Tannie Annetjie het in haar toespraak almal bedank, wat uit hul pad gegaan het om haar te bederf en die dag saam met haar te vier.

HERAUT het met haar gesels om meer oor haar te wete te kom.

“Ek is in Rosettenville, Johannesburg gebore en het ook daar grootgeword en skoolgegaan,” het sy vertel.
“Ons was ses kinders in die huis en my jongste broer is kort na my pa se dood in 1934 gebore.

Nog en van die besonere koek wat geskenk is vir Annetjie se 100ste verjaarsdag..

“Ek het by drukkers begin werk toe ek 14 jaar oud was om my ma te help. Ek onthou my ma moes nog by die skoolraad toestemming vra dat ek kon begin werk.”

‘n Jaar daarna het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek.

“Dit was ‘n moeilike tyd,” vertel sy.

Nigel se Tuiste van Bejaardes se personeel sing vir Annetjie Unterhorst.

“Ek kan onthou hoe my ma in daardie oorlogsjare vroegoggende middestad toe moes stap en in ‘n tou gaan staan het om kruideniersware te koop.”

Tannie Annetjie is net na die oorlog in 1946 met Leonardus Johan Unterhorst getroud.

Hulle was vir 53 jaar getroud en het in 1967 na Nigel verhuis.

Wanneer ‘n mens 100 jaar oud word kan jy mos meer as een verjaarsdagkoek hê. Een van die koeke ter viering van die spesliale mylpaal.

“Ons kon ongelukkig nie kinders kry nie, maar ons het baie kinders help grootmaak,” het sy vertel.
Tannie Annetjie het destyds ook by die drukkerye in Nigel en Heidelberg gewerk.

Na haar man se dood in 2001 het sy eers vir ‘n tyd by een van haar broers in Florida, Roodepoort gaan bly.
“My en my man se name was op die lys om hier by die tuiste te kom woon, en ek het toe besluit om weer hierheen te trek,” sê sy.

Annetjie Unterhorst het almal, wat die dag vir haar spesiaal gemaak het, bedank.

“Ek bly nou al vir sowat 15 jaar hier en ek is baie gelukkig.

“Daar is so baie dinge waarvoor ek dankbaar is, veral vir die tuiste.”

Die verjaarsdagpartytjie spesiaal vir haar gereël het haar baie opgewonde gemaak.

“As kinders het ons nie sommer partytjies gehad nie,” sê sy.

Annetjie Unterhorst sny een van haar verjaarsdagkoeke.

“Dit het op my 21ste verjaarsdag so verskriklik gehael dat niemand kon kom nie, maar nou voel dit asof ek genoeg partytjies kry om op te maak daarvoor.

Gevra oor haar geheim vir ‘n lang lewe, gee sy die volgende raad: “Dit is harde werk, maar geloof in die Here is belangrik.

“Eer jou vader en jou moeder en lewe ‘n skoon lewe. Daar is storms in almal se lewe, maar dit maak jou sterk.”
“Sit die Here eerste in jou lewe,” sê sy ter afsluiting.

Lerisa Janse van Vuuren, Nico Janse van Vuuren, Martie de Villiers, Hans Meyer en Patricia Meyers saam met Annetjie Unterhorst.

“Soek eerste die Koninkryk en die res sal vanself kom.”

Al die rolspelers wat daartoe bygedra het dat Tannie Annetjie ‘n onvergeetlike 100ste verjaarsdag kon geniet is tydens die verloop van die oggend bedank.

Die boodskap op een van die koeke.
Exit mobile version