Plaaslike skrywers se werk opgeneem in bloemlesing

Daar was altesaam 1 400 inskrywings en 340 skrywers wat werke ingestuur het.

Twee inwoners van die Suikerbos Aftreeoord draai nie doekies om wanneer dit by hul skryfvernuf kom nie.

Steve Lategan (87) en Hettie Smit (85), wat beide in Silwer Akker in die oord woonagtig is, het hul werk ingestuur vir ‘n skryfkompetisie, Ink skryf in Afrikaans deur Groep 7 Drukkers in 2023.

Daar was altesaam 1 400 inskrywings en 340 skrywers wat werke ingestuur het.

Die 825 gedigte en 146 kortverhale het die beoordelaars behoorlik laat bontstaan.

Lategan en Smit se skryfkuns het egter die beoordelaars se oog gevang en hulle werke is in ‘n bloemlesing opgeneem, wat op 11 November in Pretoria bekendgestel is.

Hettie Smit.

HERAUT het met die twee plaaslike skrywers gaan gesels en die volgende vrae aan elk gestel:

• Wat gee jou die inspirasie om te skryf?

Lategan: My inspirasie kom van binne af. Ek tap in op dinge wat ek self een of ander tyd op ‘n manier beleef het. Goed gebeur gewoonlik in ‘n oogwink en dit kan ‘n person sterker maak as jy reg daarin kan tap.

Smit: My inspirasie kom van my ervaring van die lewe. Die lewe het soveel mooi dinge en dit hou my positief.

• Watter onderwerpe kies jy graag om oor te skryf of wat verkies jy om te skryf?

Lategan: Ek hou myself graag besig met kortverhale en prosa.

Smit: Ek skryf oor wat ek in die lewe sien, wat mooi is en waardeur iets geleer kan word.

• Wanneer het jy begin om jou stories te skryf?

Lategan: Ek het begin skryf vandat ek in Sub B in die skool was.

Smit: Ek het as jong getroude volwasse begin skryf. Ek het jare gelede ook ‘n skryfkompetisie gewen.

• Het jy enige letterkundige opleiding gekry?

Lategan: Ek het onderwys by verskeie skole gegee so ek glo ek het my letterkundige opleiding prakties ontvang.
Smit: Ek het geen formele letterkundige opleiding gehad nie, so ek leer maar myself. Lewenslesse is die beste leerskool.

• Enige raad vir opkomende digters/skrywers?

Lategan: Wees nederig en wees jouself. Gebruik jou talent om jouself te verbeter. Hou balans in alles wat jy doen en baie belangrik leef jou lewe voluit.

Smit: As daar gedagtes by jou opkom skryf dit dadelik neer en moet nie wag tot môre nie. ‘n Mens vergeet gou as jy iets nie dadelik neerskryf nie. My raad is: wees altyd bedag en neem soveel in as wat jy kan. Leer daagliks en wees kreatief in wat jy doen.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version