Local news

Voormalige eerste burger ter ruste gelê

Hy het ook ‘n Paul Harris toekenning van die Rotariër Klub ontvang vir sy toewyding tot sy medemens.

‘n Groot groep, familie, vriende, kennisse asook ander belanghebbendes het op 3 Novmber afskeid geneem van ‘n gesiene inwoner en voormalige burgemeester van Heidelberg.

Jacobus Christiaan Jonck (85) of Koos Jonck, soos alom bekend, was gebore op 22 Februarie 1938 en oorlede op 29 Oktober.

Jacobus Christiaan Jonck in sy jong dae. Hy was ‘n uitblinker op die rugbyveld.

Die begrafnis het vanuit die AGS Kairos Kerk in Heidelberg plaasgevind.

Dit was onder andere deur die burgemeester van die Lesedi Munisipaliteit as ook verskeie raadslede bygewoon.
Die burgemeester,Mluleki Nkosi het in ‘n toespraak eer betoon aan Jonck.

Jonck en Nkosi het in 2009 vir die eerste keer paaie gekruis en het sedertdien saam op verskeie rade in LPM gedien.

Die burgermeester Mluleki Nkosi het eer betoon.

Jonck was in Sabie gebore en het sy skool loopbaan in Germiston voltooi.

Hy het sy loopbaan by die Suid-Afrikaanse Spoorweg begin en later het hy homself gevestig in die motor handelaar bedryf in Heidelberg.

In 1978 het Jonck sy politiese loopbaan betree as raadslid van Rensburg se stadsraad.

Gedurende sy politieke loopbaan het Jonck ook gedien as onder burgemeester en ook as burgemeester van Heidelberg in die 1980’s.

Ds Christo Brits het die begrafnisdiens gelei.

In 2011 het Jonck die politiese tuig neergelê.

Hy het ook ‘n Paul Harris toekenning van die Rotariër Klub ontvang vir sy toewyding tot sy medemens.

Op die sportveld het hy uitgeblink op die rugbyveld. Hy het vir Germiston en die Johannesburg Munisipaliteit asook Heidelberg Rugby Klub gespeel.

Op provinsiale vlak het hy vir die Griekwas, Transvaal asook Oos-Transvaal verteenwoordig.

Jonck was ‘n paar keer gekies vir die Kwagga span en het ook teen die All Blacks in ‘n wedstryd te staan gekom.
In 1972 was hy ook gekies om aan die Springbok proewe deel te neem.

Jonck laat sy vrou Martie, dogters Annemie en Ida en seun Klein Koos, aangetroude familielede en kleinkinders agter.

Hy is in die Heidelberg begraafplaas ter ruste gelê.

Related Articles

Back to top button