Local news

Boerefees sorg vir hope pret

Die gemeenskap het in hul massas opgedaag om die boerefees te ondersteun.

Die ‘Shaking’ Nigel Boerefees op 7 Oktober by die Nigel Rolbalklub was ‘n fees uit die boonste rakke.

Die geleentheid, ten bate van die Villa Liberi kinderhuis op die dorp, is deur Earth Owl gereël.

“Dit was ‘n ongelooflike lekker dag met pret vir die hele gemeenskap,” het Roché Pepler van Earth Owl gesê.

Roché Pepler, saam met Bea Lubbe en Santana Pestana by Earth Owl se stalletjie tydens die boerefees.

“Met meer as 600 inskrywings vir ons pretloop vir liefdadigheid, en sowat 25 stalletjies en die ondersteuning van die gemeenskap voel ek geseënd om te kan sê dat die dag ‘n reuse sukses was,” het Pepler gesê.

“Dankie aan Villa Liberi en julle span wat ons toegelaat het om ‘n verskil te kan maak.

“Met die fondse wat jaarliks vir hulle ingesamel word, vertrou ons dat die kinderhuis van krag tot krag sal gaan.”
Pepler het ook namens Earth Owl en verskeie borge haar dank uitgespreek teenoor die bestuur van die rolbalklub.

Jaco Smit, Piet Smit en Johann Eckermans het die potjiekoskompetisie met gees aangepak.

“Baie dankie dat julle die klub se deure vir ons oopgemaak het, en vir al die bydrae en harde werk wat julle gedoen het agter die skerms om die dag suksesvol te maak,” het sy gesê.

Gemeenskapslede kon ook spanne inskryf om deel te neem aan ‘n potjiekoskompetisie.

Die wenprys was ‘n wegbreek na Tzaneen ter waarde van R12 600, wat die span ‘Bos-Bru’ gewen het.

Mabel van Staaden en Hettie Botha het na die kompetisie die dag se verigtinge geniet.

“Ek moet sê dat die kompetisie ‘n stywe een was tussen al die spanne,” sê Pepler.

Die plaaslike sanger, Jean Diedrick het sy talent by die fees gewys deur die gemeenskap met verskillende genres musiek vermaak.

Roché Pepler het die wenspan van die potjiekoskompetisie aangekondig.

Pepler het ook haar dank uitgespreek teenoor Hoërskool John Vorster wat die hoof ondersteuners van die dag was en die Kingdom Warrior motorfietsklub vir hulle gees en moeite om die 3km pretloop te lei.

Die dag was afgesluit met die Generation Dansskool wat die dansvloer vir die gemeenskap met ‘n optrede geopen het.

Beoordeellaar en lid van die VLU se Nigel-tak, Mabel van Staaden saam met Elsa Greyling en Marcelle Bonafé van die tak wat die VLU in die potjiekoskompetisie verteenwoordig het.
Die Kingdom Warriors motorfietsklub het die 3km pretloop met hul motorfietse gelei.
Leerders en personeel van Hoërskool John Vorster het in hul massas opgedaag om die pretloop te ondersteun.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button