Local news

SAVF het lede nodig

Die SAVF se Nigel tak sal ook volgende jaar hul 90ste bestaansjaar vier.

Chris Engelbrecht, voorsitter van die SAVF se Nigel-tak het ‘n beroep op gemeenskapslede gedoen om die tak by te staan.

“Die SAVF Nigel tak kort hande en kundigheid,” sê Engelbrecht.

“Die meeste van ons lede, veral ons bestuurslede, is pensioenarisse en het nie noodwendig die nodige kundigheid om met rekenaars en ander moderne tegnologie te werk nie.

“Ons vra dat gemeenskapslede by ons sal inskakel en veral by die tak se bestuur.”

Volgens Engelbrecht word daar een keer ‘n maand vergadering gehou wat gewoonlik net twee ure duur.
Die tak se kospakkie projek, waarby hulle vir 25 arm gesinne van kruideniersware voorsien, verg ook net twee ure een keer per maand.

“Om ander te help is baie belonend en laat ‘n mens ook self goed voel as jy ander help,” sê Engelbrecht verder.

“Ons is daar om in die moeilike tye na mekaar om te sien.”

Die tak nooi belangstellendes uit om tydens die volgende kospakkie dag op 5 Oktober by die werksaamhede in te skakel en deel te word van die tak en hierdie projek.

Die SAVF se algemene jaarvergadering sal ook op 9 Oktober plaasvind waartydens nuwe bestuurslede gekies sal word.

“Ons is geseënd met goeie skenkers wat ons maandeliks help met fondse en bydraes vir die kospakkie projek,” sê Engelbrecht.

“Die tak, wat in 1934 gestig is, vier volgende jaar sy 90ste bestaansjaar.

“Dit sal vir ons vreeslik hartseer wees as ons die tak moet sluit weens te min lede en ondersteuners.”

Gemeenskapslede wat meer inligting wil bekom kan Engelbrecht by 082 561 9081 skakel.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button