Skietklub wys hul staal

Die plaaslike skuts het hulself goed van hul taak gekwyt.

Verskeie lede van die SA Jag en Wildbewaring Vereniging (SAJWV) se Duiker-tak van Balfour het op 17 Augustus aan die Nasionale Kompetisie in Bloemfontein gaan deelneem.

“Die SAJWS is ‘n vereniging wat hom beywer vir die bewaring en volhoubare benutting van wild,” sê Johan Scott van die tak.

“Die vereniging bestaan uit sowat 43000 lede landswyd en een van die nie onderhandelbare dissiplines by etiese jag is om wild te kan dood met ‘n enkele skoot om so te verhoed dat daar enigsins leiding is.

“Om dit te kan vermag moet die jagter ‘n uitstekende skut wees en om die lede toe te rus met hierdie bekwaamheid word daar gedurende die jaar verskeie skietkompetisies landwyd gehou.”

Volgens Scott word die beste 50 spanne vanuit hierdie kompetisies dan genooi om aan die Nasionale Kompetisie deel te neem.

“Die jaar het twee van die Duiker-tak se spanne hiervoor gekwalifiseer,” het Scott vertel.

Die Blou Duikers-span van die tak het die dag van die Nasionale Kompetisie in die 24ste posisie ingetree.

Die SAJWS se Nasionale kompetisie is op 17 Augustus gehou.

Die span het bestaan uit Johann van der Westhuizen, Christoffel Cronjé, Dawie Viljoen en Gerhard Harmse.

Die Blou Duikers span het die Nasionale Kompetisie in die sewende posisie geëindig met ‘n punte telling van 2470.37

Die tak se Duiker Ramme span het die dag van die Nasionale Kompetisie in die tweede posisie betree.
Hulle het bestaan uit CN Krugel, Justin van As, Ruan Botha en Jannie Venter.

Die Duiker Ramme het die Nasionale Kompetisie in die eerste plek geëindig met ‘n totale punte telling van 2680.54

CN Krugel en Jannie Venter het ook in die individuele afdeling van die kompetisie onderskeidelik vierde en sesde geëindig.

Dawie Viljoen het ook in sy afdeling derde geëindig.

“Die Duiker-tak is besonders trots op hierdie manne en hul puik prestasies,” het Scott namens die tak gesê.

Exit mobile version