Plaaslike DBVs spreek dank uit

Die plaaslike DBVs waardeer die gemeenskap se ondersteuning.

Petro Coetzee van die Heidelberg Dierebeskermingsvereniging (DBV) het onlangs haar dank en waardering teenoor die gemeenskap uitgespreek vir hul hulp en bydraes tot die DBV.

“Ons woon in ‘n wonderlike gemeenskap,” sê Coetzee.

“Ons het almal geweet van die yslike koue front wat op pad was en die gemeenskap het ingespring en die skenkings het ingestroom.”

Coetzee meen dat hulle soveel skenkings gekry het dat hulle aan hul sustertak in Nigel ook broodnodige items kon afstaan.

“Ons het ook finansiële skenkings gekry wat ons in staat gestel het om vir die meeste hondehokke nuwe beddens te kon koop. Met die talle komberse wat ons ontvang het kon ons verseker dat die diere goed beskud was teen die koue,” sê Coetzee.

Die Heidelberg DBV is dankbaar vir elke skenking.

Die Nigel DBV se voositter, Angela Morris meen dat hulle baie dankbaar is vir al die skenkings.

“Ons wil graag ons gemeenskap en suster-tak bedank vir al hulle ondersteuning,” sê Morris.

“Ons wil egter steeds vra dat die gemeenskap sal aanhou om ons te help met skenkings – of dit komberse of kos is, dit sal waardeer word.”

Morris meen dat die Nigel DBV tans sowat agt katte en 45 honde huisves waarvoor hulle kos en komberse nodig het.

Die Nigel DBV is geleë op die Nigel-Dunnottar pad en die Heidelberg DBV is geleë by Retiefstraat 1.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version