Local news

Laerskole voedingskemas ontvang komberse

Die projek gaan nou jaarliks aangepak word.

Danksy die vlytige vingers van ‘n groep vroue sal vele inwoners van die dorp ‘n bietjie warmer kry hierdie winter.

Dié groep vroue, met Elsabé Esterhuizen aan die stuur van sake, het die nood gesien en besluit om ‘n verskil te maak.

Esterhuizen het die idee gekry om komberse te hekel en te brei en aan skole te skenk vir die minder bevoorregte skoolkinders in Heidelberg en omgewing.

Elsabé is die eienaar van die koffie- en geskenk winkel, Appelliefie.

Met die gedagte om ‘n verskil te maak het Elsabé en ‘n groep vroue in Februarie ingespring en begin brei en hekel om die komberse vir die wintermaande reg te kry.

Sommige van die komberse wat aan die skole geskenk was.

Benewens die vroue wat vanuit Appelliefie hard gewerk het, het inwoners van die Heidelberg Aftreeoord asook vroue van sovêr as Johannesburg ingespring en hul deel bygedra.

Daar was op die ou einde altesaam 123 komberse aan die verskeie skole se voedingskemas geskenk.

Laerskool AG Visser, Laer Volkskool en Heidelberg Public School het die komberse in ontvangs geneem.

“Skenkings om die projek te laat realiseer het van verskeie oorde af gekom. Van wol tot hekel- en brei naalde en nog meer. Dit is ‘n riem onder die hart dat soveel mense uit verskeie oorde gehelp het,” het Esterhuizen gesê.

“Ons gaan nou elke Dinsdag ons deure oopmaak van 10:00 tot 12:00 vir enigeen wat wil saambrei en ons help met die projek.

Belangstellendes sal voortaan elke Dinsdag by Appelliefie kan hekel of brei om die projek te laat voortleef.

“Ons wil die projek nou ‘n jaarlikse instelling maak nadat ons gesien het hoe groot die nood in ons eie skole en gemeenskap is,” het Esterhuizen mee afgesluit.

Appelliefie is ‘n unieke winkel waarmee Esterhuizen in 2019 vir die eerste keer kennis gemaak het, toe sy daar begin werk het.

In 2022 het Esterhuizen die alleen eienaar van die winkel geword.

Enige persoon wat meer inligting wil bekom oor die kombersprojek of betrokke wil raak kan vir Elsabe Esterhuizen by 074 890 0388 kontak.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button