Local news

Opknappingswerk by tennisklub vorder

Volgens Riana de Lange sal baie van die groot opknappings rondom die tennisklub eers gedoen kan word nadat die klubhuis weer krag het.

Riana de Lange van die Nigel Tennisklub meen dat die herstelwerk aan die klub al heelwat gevorder het.

Die HERAUT het in April verslag gedoen oor die beplande opknapping van die klub (Tennisklub word reggeruk).

“Ek is opgewonde oor wat ons alreeds uitgerig het,” sê de Lange.

“Daar is egter nog baie wat ons moet doen, maar ons sien vordering.”

Volgens de Lange het heelwat besighede en weldoeners haar reeds gekontak om te help met die opknappings en herstelwerk.

Die klubhuis se vensters en glasdeure is alreeds vervang en die badkamers en kombuis is oorgeverf.

“André Moolman en sy span het gesorg dat die tennisklub se grasperke gesny is en ons het al baie van die blare en onkruid rondom die heinings ook verwyder,” sê de Lange.

“Baie van dit wat ons nog moet doen, veral baie van die werk in die klubhuis, sal eers gedoen kan word as ons krag op die perseel kan kry.

“Die probleem met die perseel se krag word tans ondersoek en ons hoop om dit binne die volgende paar weke reg te stel.”

Riana de Lange wys een van die bane wat tot onlangs nog weggesteek was onder onkruid maar nou darem sigbaar is.

De Lange meen dat sy dankbaar is vir al die hulp en ondersteuning wat sy van die gemeenskap ontvang.

“Ek moet vir rld Wollaston Labuschagne bedank wat gereeld uit sy pad uit gaan om ons te help en ook die munisipaliteit wat ons help om vullisdromme weg te ry,” sê de Lange.

“Dit is ook vir my wonderlik om te sien hoe baie kinders en ouer mense weer begin tennis speel.”

De Lange beplan om op 29 Julie ‘n tennis pretdag te hou en hoop dat die gemeenskap dit sal ondersteun.
Daar sal ook kosstalletjies wees.

Vir meer inligting oor die klub of die pretdag, kontak de Lange by 076 977 1388.

Related Articles

Back to top button