Tennisklub word reggeruk

Riana de Lange hoop om die Nigel Tennisklub weer tot sy glorie dae te herstel.

Die Nigel Tennisklub gaan poog om binnekort weer ‘n puik fasiliteit te wees onder leiding van Riana de Lange en haar man Hendrik.

Dit na die klub, wat in 1934 gestig is, vir die afgelope paar jaar verwaarloos was.

“Toe ons hier kom en sien hoe sleg dit lyk, het ons geweet ons moet ingryp,” het Riana gesê.

“Die heinings rondom die bane roes en is beskadig en die bane self is oorgroei of besig om onder bosse en krake te verdwyn. Ek het met raadslid Wollaston Labuschagne in kontak getree om uit te vind hoe ek ‘n huurooreenkoms met die munisipaliteit kan aangaan.”

Riana meen dat nadat die amptelike papierwerk voltooi is, sy en haar man aan einde Maart kon begin om rondom die fasiliteit skoon te maak.

“Dit het ons byna agt ure geneem om net die gras rondom die klubhuis en die eerste paar bane te sny,” meen sy.
“Ek hoop dat meer kinders en hul ouers betrokke sal raak by die sport.”

Riana rig ook tennis vir laer- en hoërskool leerders af.

Riana de Lange staan tussen twee bane waar onkruid oorgeneem het.

Sy meen dat dit belangrik is vir kinders om aan sportsoorte soos tennis deel te neem en betrokke te raak.

Die bane wat bruikbaar is word tans ook gebruik vir skoolkompetisies.

“Dit sal vir my lekker wees om te sien hoe die klub weer van die grond af opgetel word,” meen Labuschagne (DA raadslid vir Wyk 88).

“Ek, wat ‘n groot aanhanger is van sport, voel dat enige sport ‘n kritieke deel van enige gemeenskap is. Met die planne wat Riana en haar man vir die tennisklub het, is ek opgewonde om te sien wat kan gebeur en hoe dit veral ons dorp se kinders kan inspireer.”

Labuschagne meen dat hy ook sy hulp en ondersteuning as raadslid aan Riana bied deur die nodige departemente verantwoordelik te hou vir die onderhoud van die klub en sy fasiliteite.

Van die bane is onbruikbaar weens die onkruid wat daar groei.

“Hier is nog baie werk wat gedoen moet word om die tennisklub tot sy dae van glorie te herstel,” het Riana vertel.

“Maar met die samewerking van die gemeenskap sal ons dit kan doen. Ons wil graag plaaslike besighede aanspoor om die klub te borg hoe ook al hulle kan, of dit met verf is en of dit is deur die bane te herstel.”

Riana meen dat hulle ook ‘n sosiale byeenkoms beplan vir wanneer die tennisklub weer ten volle herstel is.

“’n Amptelike heropening en beplanning vir ‘n klub komitee sal dan ook in die beplanning wees,” het sy gesê.
Vir meer inligting oor die klub of hoe om betrokke te raak kan Riana by 076 977 1388 gekontak word.

Exit mobile version