Local news

Gesteelde motorfiets selfde dag gevind

Sarel Marais meen dat die samewerking van publiek en SAP 'n riem onder die hart is.

‘n Motorfiets van Bike Addict in Hendrik Verwoerd Straat, wat op 19 April in die oggend gesteel is, is dieselfde dag weer gevind.

Die eienaar van Bike Addict, Sarel Marais, meen dat die voorval ‘n voorbeeld van goeie samewerking en puik polisiewerk was.

“Ons het toevallig die vorige dag, 18 April, navraag gehad oor die spesifieke motorfiets wat gesteel is,” het Marais vertel.

“Twee jong mans het belangstelling getoon in die motorfiets, ons het selfs brandstof ingesit en die fiets vir hulle aan die gang geskop sodat hulle na dit kon kyk.”

Die belangstellendes het egter nie die motorfiets gekoop nie.

“Sowat 06:00 die oggend, van 19 April, het my winkel se alarm af gegaan. Toe ek by die winkel opdaag was die voorste ruit uitgebreek, die diefwering uitgeruk en die motorfiets was weg.”

Die diefwering is uitgeruk om toegang tot die winkel te kry.

Marais meen dat, nadat hulle op Facebook ‘n plasing oor die diefstal geplaas het, hulle waardevolle inligting van ‘n persoon ontvang het.

Na verdere ondersoek deur die dag en verdere inligting wat ontvang is, kon die Nigel SAPD en lede van die EMPD saam met Marais die gesteelde motorfiets by ‘n woning in Springs opspoor.

Twee verdagtes, dieselfde twee wat die vorige dag by die onderneming was en belangstelling in die motorfiets getoon het, is op aanklag van diefstal gearresteer.

“Dit is ‘n riem onder die hart dat die gemeenskap so oplettend is,” het Marais ter afsluiting gesê.

“Die goeie en professionele samewerking van die publiek, SAPD en EMPD het gehelp om die saak op te los.”

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button