Local news

Oorbodige items kan jou skool R10 000 in die sak bring

Jou rommel kan vir iemand anders waardevol wees.

Solidariteit Helpende Hand se Heidelberg-tak het op 3 Februarie twee pre-primêre skole besoek met die bekendstelling van hulle Ons Winkel Skole Kompetisie.

Die kleintjies van die Vissie Pre-Primêre Skool asook Pinki Ponkie was baie opgewonde oor die besoek.

Helpende Hand se streek organiseerder, Mariolete Vorster, en die Heidelberg-tak se voorsitter, Patricia Meyer, het met die kinders gaan gesels.

Helpende Hand se gelukbringers Tassie Tier, Hettie Hasie, Asjas Apie en Boekies Beer het tot groot vermaak van die jongspan saam gekuier.

Die kompetisie is deel van Helpende Hand se projekte om armoede in skole te beveg en vir leerders die geleentheid te gee om te help en sodoende ook hul skole in aanmerking vir ‘n kontante prys te laat kom.

Vissie Pre-Primêre skool sing ‘n lied tydens Helpende Hand se besoek.

Die wenskool gaan R10 000 ryker wees na afloop van die kompetisie.

Helpende Hand het gedurende Januarie reeds die laerskole in die omgewing besoek en is nou besig met ‘n veldtog om die pre-primêre skole aan boord te kry.

Die kompetisie kom teen die einde van Julie tot ‘n einde.

Leerders, kinders en ouers word gevra om ou klere, skoene, speelgoed, sport toerusting en selfs meubels wat by die huis rondlê of rondstaan en nie gebruik word nie te skenk. Die skenkings kan na die skole geneem word of aan Ons Winkel besorg word.

Vir elke item wat geskenk word, word sekere punte toegeken en rekord daarvan gehou.

Helpende Hand se gelukbringers, Asjas Apie, Boekies Beer, Tassie Tier en Hettie Hasie.

Sodra die kompetisie ten einde geloop het sal al die punte opgetel word en die wen skool sal die kontantprys ontvang

“Die idee en doel met die kompetisie is nie net om armoede te verlig nie, maar ook om iemand anders te help wat dalk die spesifieke item sal benodig,” het Meyer verduidelik.

“Jou rommel kan vir iemand help en van ontsaglike waarde wees. ‘n Deel van die wins sal aangewend word om vir studente rentevrye studielenings beskikbaar te stel.”

Verder gebruik Helpende Hand ’n deel van die Ons Winkels se wins vir projekte om behoeftiges se lot te verlig met verskeie projekte soos die Skooltassie-projek, HelpHetta, Help Hendrik, Kosblikkie-projek en nog vele meer.

Vir meer inligting kan Patricia Meyer by 083 305 3577 gekontak word of Nico Janse van Vuuren (Nigel-tak voorsitter) by 060 528 0018.

Patricia Meyer van Helpende Hand se Heidelberg-tak praat met Vissie Pre-Primêre skool se leerders.

Related Articles

 
Back to top button