Rensburg se gemeenskap is keelvol.

Rensburg sê genoeg is genoeg, tyd vir aksie.

Inwoners van Rensburg het op 14 Januarie in groot getalle opgedaag by ‘n vergadering waartydens probleme in die woonbuurt onder die vergrootglas geplaas is.

‘n Petisie om aan Lesedi Plaaslike Munisipaliteit (LPM) te oorhandig is ook tydens die vergadering deur die publiek geteken.

Die petisie bevat ‘n opsomming van die probleme en klagtes van die inwoners.

Die wiel is aan die rol gesit nadat Trompie van Wyk, Kananelo Tlali en Antoon Strydom die gemeenskap se pleidooie en gebrek aan dienslewering na vore wou bring, en terselfdertyd eis dat daar daadwerklike optrede kom.

Gemeenskapslid Benjamin Moshoadiba spreek Rensburg se inwoners toe.

‘n Woordvoerder van die petisie aksiegroep Ounie Coetzee het ook die gemeenskap toegespreek.

“Die groot kwessie is die dienslewering wat nie na wense is in Rensburg nie,” het Coetzee gesê.

Verskeie kwessies wat op die petisie aangebring is, is ook bespreek.

Bo aan die lys is die krag situasie wat Rensburg se gemeenskap tans ondervind. Ander kwessies is water tekort en lae water druk, gebreekte straatligte, slaggate, parke en sypaadjies wat minimale of geen onderhoud en aandag geniet nie, verkeerstekens wat verwyder word, dorpswette wat nie deur die munisipaliteit toegepas asook die misdaad in die buurt.

Ounie Coetzee het die inhoud van die petisie voorgelees.

Meer as 500 persone het die petisie onderteken en bykomende handtekeninge sou verkry word voordat die petisie aan die burgemeester Mluleki Nkosi oorhandig gaan word.

Die inwoners wat opgedaag het dit duidelik gemaak dat hulle keelvol is vir al die probleme wat tans in die buurt ondervind word.

Die gemeenskap is dit eens dat daar dringend na dienslewering gekyk moet word, anders sal die gemeenskap dit verder neem.

Rensburg inwoners het tou gestaan om die petisie te teken.

Sedert die nuwe jaar begin het tot hede het Rensburg altesaam agt dae geen elektrisiteit gehad nie. Dit het onder andere daartoe gelei dat inwoners duisende rande se voedsel moes weggooi.

“’n Skoon en veilige gemeenskap met water en elektrisiteit is elke gemeenskapslid se reg, en ons eis dat daar dringende aandag daaraan gegee word,” het Coetzee gesê.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version