Local news

Dit gaan goed met Cloete maande na hondaanval

Jaybee Cloete wat einde Junie deur 'n hond aangeval is, is goed aan die genees volgens haar seun.

Jaybee Cloete (62) wat verlede jaar gedurende Junie deur ‘n hond op haar familie se kleinhoewe buite Heidelberg aangeval is, sterk goed aan.

Die aanval het Cloete met erge wonde aan haar bene en bo-arm gelaat.

“Na talle besoeke aan hospitale en dokters asook ‘n veloorplanting, is my ma uiteindelik weer op die been,” het Cloete se seun Andries gesê.

“Dit gaan emosioneel goed met haar en alhoewel sy nou ‘n ander siening oor honde het, is sy gelukkig nie heeltemal van hulle afgeskrik nie.”

Haar pad tot genesing was egter nie maklik nie.

“My ma was ‘n paar keer weer in die hospitaal nadat sy aanvanklik ontslaan was. Sy moes verskeie kere terug gaan om infeksies te bekamp en ook om meer dooie weefsel uit die wonde uit te sny.”

Cloete moes ook vir ‘n tyd met ‘n voetstuk en loopraam klaarkom.

Sy gebruik steeds die voetstuk om haar te help om te loop.

“My ma is nou ten volle mobiel, al loop sy bietjie stadiger,” vertel Andries.

“Die voetstuk help haar om haar tone op te tel. My ma het einde Augustus 2022 vir haar veloorplanting oor die grootste wonde gegaan.

“Sy was ook deur Dority Maartens gehelp met fisioterapie sessies. Sy het oefeninge gekry om by die huis te doen, om haar te help om haar spiere te versterk.

“Ons moes wel my ma se voertuig verkoop en vir haar ‘n outomatiese kar aanskaf aangesien sy nie die koppelaar kon trap en beheer nie. Maar ek glo die ergste is agter ons en daarvoor is ons dankbaar.”

Andries het namens sy ma en gesin hul dankbaarheid teenoor die gemeenskap uitgespreek.

“Ons wil dankie sê aan almal wat ons bygestaan het deur die tyd en gehelp het waar hulle kon,” hetAndries ter afsluiting gesê.

Related Articles

Back to top button