Gemeenskap groet geliefde prokureur

Lofprysings vir sy regskennis en wonderlike geheue het ingestroom.

Kobus Boshoff (84), ‘n gesiene in die regsbedryf en ‘n bekende prokureur in Heidelberg is op 28 Junie oorlede.
Boshoff was die oudste seun van agt kinders; drie broers en vier susters.

Hy is op 25 Desember 1940 in George gebore. Nadat hy sy matriek voltooi het by die Hoërskool Erasmus in Bronkhorstspruit, het hy in 1958 begin werk as klerk by die Cullinan Landdroshof.

Later is hy na die justisie hoofkantoor in Pretoria waar hy verdere ondervinding opgedoen het voordat hy oorgeplaas is na Pietermaritzburg.

Hy het sy regsgraad aan die Universiteit van Natal behaal en verhuis na Johannesburg om sy klerkskap te doen.
Na sy toelating het hy in regte in die bankwese gespesialiseer en het later sy eie praktyk begin.

Boshoff het sy vrou Jeanie in 1975 ontmoet en uit hul huwelik is daar twee seuns Mauritz en Kobus gebore.

Mauritz en Surika woon in Randburg en Kobus en Yolandi met kleinkinders Juané (10) en Kobus (8) woon in Rensburg.

Boshoff was vir 10 jaar by die Regshulpraad waar hy meer as 200 kandidaat prokureurs opgelei het. Vandag is van hulle advokate, landdroste, prokureurs en selfs regsbeamptes by SARS.

Nadat Boshoff by die Regshulpraad moes aftree, het hy weer sy eie praktyk in Randburg begin voordat hy in 2016 na Heidelberg verhuis het om ‘n rustiger lewe te hê en om langs sy jongste seun, Kobus en sy familie te woon.

Sy liefde vir die regsbedryf het hom weer ‘n kantoor laat open in Heidelberg en tot en met drie dae voordat hy gehospitaliseer is het hy nog elke dag gewerk.

Hy is op 25 Junie gedurende die nag opgeneem by die Life Suikerbosrand Hospitaal waar hy op 28 Junie oorlede is.

Sy begrafnisdiens was op 5 Julie vanuit die AGS Kairos kerk in Voortrekkerstraat gehou.

Na die afskeidsdiens is sy lewe gevier by The Secret Garden waar verskeie mense verder getuig het oor sy nalatenskap en leemte wat hy los vir almal wat vir hom lief was en hom gerespekteer het.

“Daar was so baie mense wat die diens bygewoon het,” het sy vrou Jeanie vertel.

“Prokureurs, kliënte, vriende en familie het van sovêr as Kimberley, Senekal en Petrus Steyn af gery om hom finaal te kom groet,” het Jeanie gesê.

Lofprysings vir sy regskennis en wonderlike geheue het ingestroom.

Een van hulle was: “‘n Hele biblioteek het afgebrand”.

Nog een: “Sy leiding en geduld om iets te verduidelik was prysinswaardig.”

Hy was baie betrokke op verskillende WhatsApp groepe soos ‘Criminal Law’ en ‘Amicus Legis’ waar jong prokureurs vrae en hulp vra en hy gereelde bydraes gelewer het.

“Kobus het ‘n pragtigste sin vir humor gehad. Hy kon die snaaks in enige situasie sien en het selfs in die hof kwikslae kwytgeraak. ‘n Pragtige humor wat die seuns ook by hom geler het,” het Jeanie vertel.

Hy word beskryf as uiters belese en kon aanhalings uit literatuur en boeke korrek aanhaal.

Boshoff se dood laat ‘n groot leemte vir sy familie, vriende en kliënte.

Exit mobile version