Local newsNews

Daar is elke dag rede om te glimlag

Allie wil nooit 'n bekommernis vir ander wees nie.

Die jaarlikse Loslitdag vir persone met gestremdhede is om die draai en word op 1 September gevier.

Loslitdag is die Nasionale Raad van en vir Persone met Gestremdhede (NCPD) se vlagskip-bewusmakings- en fondsinsamelingsprojek.
Vanjaar se tema is “Share a smile”.

Support people with disabilities
this Casual Day on September 1, 2023.

“Hierdie tema het ten doel om vriendelikheid, welwillendheid en positiwiteit te bevorder ter ondersteuning van persone met gestremdhede in Suid-Afrika,” het die NCPD se nasionale direkteur, Therina Wentzel gesê.
“’n Glimlag kan ‘n positiewe kettingreaksie van wonderlike, onbeheerbare proporsies veroorsaak,” het sy bygevoeg.

Die HERAUT het na aanleiding hiervan met ‘n inwoner van die dorp, Alwyn de Preez (44) gaan gesels.

Alwyn du Preez.

Alwyn het Downsindroom maar hy geniet die lewe en hy is elke dag gereed om ‘n glimlag te deel.
Downsindroom is ’n toestand wat voorkom as ’n mens ’n ekstra chromosoom het.

Alwyn en sy ouers Ettienne en Elma du Preez het 43 jaar gelede na Heidelberg getrek.

Hy het vriendelik die HERAUT se vrae beantwoord.

• Hoe ken almal jou?

Almal ken my as Allie.

• Hoe lyk ‘n tipiese dag in Allie se lewe?

Ek geniet dit om in die oggende vir my ma en pa tee te maak en ontbyt te neem. Daarna gaan ek na die Masicidane Helpmekaar Klub in Heidelberg. Ek geniet dit om legkaarte te bou en prentjies plak. My beste maat is Neels Pruis by Masicidane. Ek is elke dag sy “help-maatjie”. Neels is blind en in ‘n rystoel en ek help hom waar ek kan.

• Wie is jou rolmodelle?

Ek is baie lief vir Afrikaanse musiek en dink Appel, Bok van Blerk, Robbie Wessels Dewald Wasserfall en Adriette Norman is persone wat baie vir my beteken met hulle musiek.

• Word jy soms moedeloos?

Ek laat my nie sommer onder kry nie. Ek is dankbaar dat ek wonderlike ouers het wat elke dag vir my sorg en altyd daar is vir my.

• Watter uitdagings ervaar jy elke dag?

My grootste uitdagings is dat ek nie ‘n probleem vir ander mense wil wees nie. Ek wil help waar ek kan.

Wat is jou drome en wense?

My drome en wense is meestal dat ek altyd by my familie kan wees. Ek is baie lief vir my familie en om hulle gelukkig te sien is al wat ek wil doen. Ek sal altyd wil hê dat my familie moet glimlag. Ek sal ook eendag graag wild gaan jag.

Wat laat jou elke dag glimlag?

Ek glimlag want ek is vol lewe en wil wys dat my gestremdheid nie ander se bekommernis hoef te wees nie. Ek glimlag want ek kan pappa en mamma elke dag help in die huis.

Elma en Ettienne is baie dankbaar vir Alwyn.

“Alwyn is ‘n plesier om in die huis te hê,” het Elma vertel.
“Ons glo sy roeping in die lewe is om te dien waar hy kan.”

Hy kla nooit nie en is altyd gewillig om te help by die huis.

“Alwyn is altyd reg om te dien en dit maak hom baie gelukkig. Ons probeer hom leer om standvastig te wees en stuur hom soms in die winkel om ‘n liter melk of brood te koop sodat hy ook kan verstaan om met geld te werk,” sluit Elma mee af.

Alwyn se Ma, Elma verduidelik dat hy wel sy eie naam kan skryf en ander woorde kan hy uitken en afskryf maar hy kan nie self skryf nie. Hy kan wel lees.

KRY JOU PLAKKER
Plakkers is beskikbaar vir ‘n skenking van R20 die Nasionale Raad van en vir Persone met Gestremdhede, staatsdepartemente, skole, Alpha Pharm, BKB,

ESKORT, Clicks, JAM Clothing, Jet, Loot Online, The Hub Finbond, en Toys R Us of besoek Loslitdag aanlyn by https://casualday.co.za/

Related Articles

Back to top button