Local newsNews

Dit gaan goed met Lieben

Lieben van Zijl se gesin is dankbaar dat dit met hom goed gaan.

Lieben van Zijl (6) wat op 15 Maart vanjaar kankervry verklaar is, se ouers is dankbaar dat dit goed met hom gaan.

“Ons Hemelse Vader het Lieben nog ‘n jaar gespaar, en ons is dankbaar dat hy op 20 Julie sy sesde verjaardag kon vier,” sê Lieben se ma, Leandri.

“Verlede jaar het Lieben chemobehandeling net na sy laaste groot operasie ontvang en hy was so swak dat hy nie eers self sy geskenke kon oopmaak nie.

“Dié jaar was dit absoluut ‘n voorreg om te beleef hoe hy self sy geskenkies kon oopmaak, met net ‘n bietjie hulp.”

Volgens Leandri besoek Lieben nou elke ses weke sy onkoloog om sy gesondheid dop te hou.

“Met sy vorige besoek aan die onkoloog het sy uitslae getoon dat sy gewastelling begin optel nadat dit vir ‘n jaar minder as een was,” het Leandri verduidelik.

Volgens Leandri word die gewastelling as veilig beskou tussen nul en 10. Sodra die telling bo 10 is beteken dit dat die kankerselle weer begin groei.

“Ons was bekommerd dat die gewastelling oppad was na 10, maar toe ons op 26 Julie weer by die onkoloog was het die nuutste uitslae getoon dat die telling stilstaan,” sê Leandri.

“Ons is ongelooflik dankbaar hieroor en kan net die Here prys.”

Lieben van Zijl saam met sy ma, Leandri, sy ouer boetie, Henco en sy pa, Jaco tydens sy partytjie.

Volgens Leandri soek hulle nou vir Lieben ‘n skool.

“Soveel ouers in Heidelberg het ons na die Destinata Skool verwys en dit was ons eerste keuse toe ons, na die aanbeveling van terapeute, moes begin aansoek doen vir Graad Een,” sê sy.

“Die Departement van Onderwys het ons egter verwys vir verdere toetse by die Eureka Skool in Vereeniging.”

Leandri meen dat die Eureka Skool hulle beïndruk het, maar dat die skool slegs klas gee tot Graad Vyf.

“Die skool het Lieben geëvalueer en het gevind dat hy te slim is vir die skool, wat ‘n groot verligting is,” sê Leandri.
“Die slegte nuus is weer dat die skade aan sy lyfie ‘n impak op sy geheue en proseseering gehad het en dit maak hom nie geskik om Destinata by te woon nie.”

Volgens Leandri is daar wel twee ander skole, Francis Vorweg en Muriel Brand Skool, wat geskik sal wees vir Lieben.

“Wat nou gaan gebeur is dat die skole om ‘n tafel saam met die departement moet sit en besluit wat die beste plasing vir Lieben sal wees, waarna hulle ons in kennis sal stel,” verduidelik Leandri.

“Hulle het wel alreeds besluit dat Lieben nie in 2024 Graad Een toe kan gaan nie, maar dat hy Graad R moet herhaal. So nou is dit terugsit, asem ophou en wag om te hoor waar Lieben gaan skitter.”

Leandri meen dat die gesin dinge dag vir dag aanpak.

“Ons sal graag vir Lieben se ouer boetie, Henco (8), ook hulp wil kry. Hy was ‘n nuwe Graad Eentjie toe sy boetie skielik siek geword het en die emosionele impak op hom is duidelik,” sê sy.

“Hy moes baie vinnig grootword en dit is nie regverdig nie. Ons sal graag professionele hulp vir hom wil kry.
“Maar dit is die ding wat kanker jou leer,” sê Leandri ter afsluiting.

“Om stadiger te beweeg en te vertrou dat die mense wat God oor jou pad sit jou in die regte rigting op die regte tyd sal wys. As ek en Lieben se pa, Jaco die pad alleen moes stap het ons al lankal gekraak. Ons is werklik geseën met die beste mense wat Lieben help en ons gesin bystaan.”

Lieben gaan weer op 26 September opgeneem word om sy presiese breinfunksie te bepaal, waarna hulle ‘n MRI gaan doen om seker te maak dat daar geen gewasse weer op sy brein groei nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button