Local newsNews

Omroeper sorg vir ‘n puik damesoggend

Gross meen dat die oggend behoorlik soos 'n familiekonsert gevoel het.

Estè Gross, radio omroeper en sangeres het op 6 Mei tydens ‘n damesoggend by die Klipkerk opgetree.
Die tema van die oggend was, “Hoe klink jou klanklandskap?’”

Gross was in Heidelberg op skool waarna sy musiek gaan studeer het en ‘n graad in kommunikasiekunde behaal het.
Sy vier vanjaar ‘n dekade in die media as omroeper, nuusleser, sangeres en liedjieskrywer.
Sy was vir nege jaar ‘n omroeper by RSG en is nou al vir ‘n jaar lank ‘n aanbieder en programspesialis by PretoriaFM.

Dié veelsydige vrou is weeksdae die anker van die aktualiteitsprogram, Klankkoerant-Laatmiddag en bied Sondae ‘n verskeidenheid van musiekprogramme aan.
Sy het onlangs ook haar nuwe enkelsnit, Weerklink, uitgebring.

“Dit is vir my ‘n voorreg om in Heidelberg, my grootword-dorp op te tree en my passie met inwoners te deel,” het Gross op die dag aan HERAUT vertel.
“Dit voel behoorlik soos ‘n familiekonsert.

“Ek het ‘n passie daarvoor dat mense gemaklik en lief vir hulle eie stem moet wees en hulself ten volle so uitleef.

“My boodskap gaan daaroor om gemaklik en bewus te wees van jou eie klanklandskap,” het sy gesê.
“Dat ons mekaar die ruimte sal gee, al hoor ons partykeer mekaar se gebrokenheid, dat ons daardie veilige spasie vir mekaar sal skep en die vrymoedigheid sal hê om onsself te wees.”

Estè Gross, Charnie Jonker en Doret Lochner tydens die damesoggend.

Gross meen dat sy nog altyd ‘n omroeper, sangeres en skrywer wou word en dat dit vir haar ‘n voorreg is om haar belangstellings uit te kan leef.

“Dit is vir my ‘n groot lekkerte om vir die heel eerste keer, Weerkaats, my bundel rubrieke met lesers te deel.
“Dit gaan oor my belewenisse en gewaarwordings van alles wat in en om ons is, om die klanklandskappe wat binne ons weerkaats, weer te gee,” sê sy.

Gross het tydens die oggend met die begeleiding van die pianis, Charnie Jonker opgetree.

“My boodskap aan die gemeenskap is dat daar altyd hoop is,” het Gross ter afsluiting gesê.
“As mens leef met ‘n denkwyse van dat daar oorvloed is, in plaas van skaarste, dan is daar altyd vir almal meer as genoeg, maak nie saak wat die omstandighede is nie.

“Ek dink, dit is ook my boodskap van Weerklink, my nuwe enkelsnit, dat die Here se teenwoordigheid genoeg is.

Estè Gross se enkelsnit Weerklink is beskikbaar op alle musiekstroomdienste.
Weerkaats is ‘n bundel van haar rubrieke wat geskryf is tussen 2017 en 2023 wat op Netwerk24 verskyn het, en is beskikbaar by naledi.co.za

Related Articles

Back to top button