Local newsNews

Eenheid Suikerbos hou mannedag

Vele nuwe vrienskappe is gemaak by die mannedag.

HEIDELBERG – Die SA Weermag Vereniging (SAWV) Veterane se Eenheid Suikerbos het op 18 Maart bymekaar gekom om ‘n mannedag by die Ou Tronk in Jordaanstraat te geniet.

Frik van Niekerk, voorsitter van die eenheid, het die gebeure vir die dag geopen en sy dankbaarheid uitgespreek teenoor elkeen wat hul tyd opgeoffer het om die geleentheid by te woon.

Die besoekers is op ‘n toer deur die geskiedkundige tronk geneem.

“Erfenis is vir ons as ‘n eenheid baie belangrik en ons wil ook toesien dat die jonger geslag meer oor ons geskiedenis leer,” het van Niekerk gesê.

“Die doel van die mannedag was om veterane bymekaar te kry, nuwe vriendskappe te vorm en om ‘n gesellige tyd saam te kon hê.”

Van Niekerk het ook aan Tony Burisch van die Heidelberg Heritage Association ‘n geskiedkundige meubelstuk oorhandig.

Die stoel was ‘n toiletstoel wat deur die Suikerbosoord Huis vir Bejaardes aan van Niekerk geskenk was.

Die stoel was in 1940 gemaak en was gerestoureer voor die oorhandiging.

“Die meubelstuk gaan ‘n ere plek kry in die nuwe museum wat ons vir die Ou Tronk beplan,” het Burisch gesê.

“Ons wil verseker dat geskiedkundige stukke behoue bly vir die toekoms.”

Sedibeng Sektor voorsitter, Mario Smit, het ook benadruk dat erfenisbewaring hoog op SAWV se agenda is.

“Die SAWV Eenheid Suikerbos beplan om in September die Helde-Akker by die Heidelberg Begraafplaas op te knap ter nagedagtenis aan diegene wat hulle lewens in die verskeie oorloë verloor het,” het Smit gesê.

Van Niekerk en die Heidelberg GPF se voorsitter, Flip Minnaar, het ook hande gevat om samewerking te bewerkstellig tot voordeel van die beveiliging van die dorp en gemeenskap.

“Meer hande maak die werk ligter en ons wil help waar ons kan. Ons almal het ons sterk punte en kennis wat ons kan deel om te verseker dat die SAPS en die polisie forum hulle werk kan doen,” het van Niekerk afgesluit.


Related Articles

Back to top button