Local newsNews

Plaaslike besighede staan saam

Die besighede in Nigel het 'n projek in werking gestel om die dorp se parke netjies te hou.

Ilze Willemse van Howell Properties Nigel het onlangs besluit om in te gryp met die stand van die dorp se parke.

“Jare gelede, het ek vir die eerste keer in Nigel gesien hoe lekker mense en hul kinders kon kuier en piekniek veral by die park in Kingsway,” het Willemse gesê.

“Maar September 2022, toe ek finaal hierheen trek, het ek gesien hoe die parke in die dorp begin agteruit gaan.”

Een van die werkers wat by die Kingsway Park skoonmaak.

Teen Desember verlede jaar meen Willemse dat sy nie eers twee kinders wat in die park gespeel het, behoorlik kon uitmaak tussen die lang gras nie.

“Dit was eintlik snaaks gewees, die twee kinders was op die swaaie maar ek kon net hul koppe sien beweeg.
“Ek het aan die begin van die jaar vir Reinhardt Transport en Transmac gekontak om te hoor of ons kan hand bysit,” het Willemse gesê.

Ander besighede soos Turbofix en Turfmaster het ook dadelik ingespring om te help.

Die sirkel by Laerskool Tini Vorster se gras is ook gesny.

Willemse het ook met die Nigel CCC en DA raadslid Wollaston Labuschagne kontak gemaak om toestemming te kry om voort te kon gaan met die projek.

“Ons wil dit nie ‘n eenmalige projek maak nie, maar iets om op voort te bou. Die bestuurders met wie ons vergader het by die Nigel CCC asook Labuschagne was baie behulpsaam.”

Die groep besighede het na die vergadering die park in Kingsway skoon gemaak en die gras gesny.

Die sirkel by Laerskool Tini Vorster, die oop driehoek parke daar naby en die area rondom Jim Fouché Park is ook sedertdien netjies gemaak.

Die groep besighede het die sypaadjies langs die Jim Fouché Park ook gesny en die sypaadjie skoongemaak.
Nadat die Kingsway Park se gras gesny was, kon baie rommel wat rondlê gesien word.

Die besighede beoog om volgende die dorp se ingange aan te pak saam met die hoof areas in die dorp voordat hulle dieper in die dorp in beweeg.

“As elke besigheid in die dorp net daardie klein bietjie ekstra doen, kan ons saam die dorp netjies hou. Al is dit net die area voor hul besighede, dit help steeds.

“Dit klink dalk asof ons werk namens die munisipaliteit doen, maar ons doen dit om hulle te help. Mense moet verstaan dat die Nigel munisipaliteit deur prosesse werk wat nie in ‘n dag of twee goedkeuring kry nie,” het Willemse gesê.

Willemse het ook haar opregte dank vir diegene wat reeds help en die projek bystaan uitgespreek.
Enige besighede of individue wat deel wil word van die projek of wil uitvind hoe hulle kan help, kan vir Willemse op 079 850 4791 kontak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button