Local newsNews

Gemeenskap sluit skool vir veiligheid

Die gemeenskap het die skool afgesper en teen die heropening daarvan gestaak.

Die gemeenskap van Alrapark het op 11 Januarie ‘n standpunt ingeneem om Alrapark Primary se heropening vir die jaar te stuit.

Die gemeenskap het die skool toegespan en die kinders wat opgedaag het vir hul eerste skooldag huis toe gestuur.

“Ons as gemeenskap staan saam teen die heropening van die skool aangesien dit ‘n veiligheidsrisiko is vir beide die kinders en die personeel,” het Ronnie Smit, ‘n lid van die skool se beheerliggaam, gesê.

“Die geboue word nie onderhou soos dit moet nie en as gevolg daarvan begin dit inmekaar val.”

Bongile Sibisi, ‘n verteenwoordiger van die LUR, het met Goodman Zwane by die skool op 13 Januarie gesels.

Volgens Smit het een van die klaskamers op die skoolgronde se plafon verlede jaar ingeval, maar was daar gelukkig tydens die voorval geen kinders of personeel in die klaskamer nie.

Smit en ander gemeenskapslede het van die klaskamers vir Graad Een tot Drie op die gronde afgesper.
“Ons is regtig bekommerd oor ons kinders se veiligheid,” het Smit gesê.

“Ons smeek die departement al vir die afgelope paar jaar om in te gryp maar ons pleidooie val op dowe ore.”

Tydens die gemeenskap se staking teen die heropening van die skool het gemeenskapslid Goodman Zwane, die voorsitter van die skool se beheerliggaam, hul doelwitte en eise bekendgemaak.

“Ons wil hê die LUR van die Departement van Onderwys moet hierheen kom en kom kyk wat hier aangaan. Hulle moet die skool, wat deur ons, ons ouers en grootouers gebruik is, herbou.”

Ronnie Smit en Goodman Zwane voor die Graad Een tot Graad Drie geboue wat afgesper is.

Die skool is oorspronklik in 1899 gebou en het in 1937 geopen. Sowat 1 200 kinders gaan hier skool.

“Ons weet die kinders moet skoolgaan en onderrig ontvang,” het Smit gesê.

“Maar hulle moet veilig wees. Die personeel ook, want op die ou einde van die dag plaas ons die kinders in hul hande.”

Die gemeenskap het op 12 en 13 Januarie ook voor die skool bymekaar gekom en die skool toe gehou.
Die betogings was vreedsaam. Die Gautengse LUR van Onderwys, Matome Chiloane was gemaan om by die skool te draai.

Chiloane het beloof om op 13 Januarie by die skool aan te doen waarna ‘n verteenwoordiger van sy kantoor Bongile Sibisi opgedaag het.

Sibisi het beloof dat die skool herbou sal word en dat die departement als in hul vermoë sal doen om dit te laat realiseer.

Die gemeenskap meen die skool is onveilig vir gebruik.

“Kinders sal intussen die Covid-19 skoolrooster volg en geen kinders sal in die beskadigde klaskamer toegelaat word nie,” het Sibisi gesê.

Vyftien verskepingshouers sal vir die tyd gebruik word vir onderrig doeleindes.

“Die onderrig van ons kinders is ons eerste prioriteit asook hul veiligheid,” het Sibisi gesê.

Die skool is op 16 Januarie weer oop vir onderrig doeleindes.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button