Onwettige storting is ‘n seeroog

Onwettige storting op die R23 aangespeek.

Die Skoon-Heidelberg Groep het op 12 Januarie, onder leiding van Charlotte Cloete, begin opruim waar onwettige storting langs die R23 Heidelberg/Balfour pad plaasvind.

Skoon-Heidelberg is ‘n groep vrywilligers wat ‘n passie deel om Heidelberg skoon te kry en skoon te hou.

Enkele minute voor die groep opgedaag het, het persone steeds daar stilgehou om hul rommel te stort, in plaas daarvan om van ‘n stortingsterrein gebruik te maak.

‘n Slegte reuk het in die lug gehang. Daar was van onder gestroopte elektriese kabels, bou- en tuin rommel, asook skaapvelle te sien.

Vrywiliggers van die Skoon-Heidelberg Groep het 25 sakke gemors opgetel.

Volgens inligting is tuindienste, wat na die Ratanda stortingsterrein gegaan het om hul vullis daar te laat, weggewys.

Blykbaar het personeel van die Lesedi Plaaslike Munisipaliteit (LPM) by die Ratanda stortingsterrein die tuindienste weggewys en aangeraai om die vullis in die oop stukke veld langs die R23 te stort.

Verskeie tuindienste het dit bevestig.

Die stortingsterrein in Ratanda is ongeveer 5km van waar die onwettige storting plaasvind.

Tuinvullis en swartsakke met ander rommel ontsier die area.

Die LPM woordvoerder Katleho Seaga, is in dié verband gekontak. Seaga sê hy was nie bewus daarvan dat die tuindienste weggewys word nie.

“Daar is intussen met die stortingsterrein personeel gepraat en hulle is aangesê om toe laat dat tuinvullis by die stortingsterrein weggegooi mag word.”

“Almal is welkom om hulle vuilgoed daar weg te gooi,” het Seaga gesê.

Bourommel is op verskeie plekke sigbaar.

Vrywilligers van die Skoon-Heidelberg Groep het in ‘n uur se tyd sowat 25 sakke vol rommel opgetel.

Dit het ‘n klein duik gemaak in die groot hoeveelheid rommel en stinkende vullis wat rondlê.

“Die gemeenskap moet nie net oral hulle rommel weg gooi nie. Hulle moet dit na die korrekte plekke neem,” het Cloete gesê.

Gestroopte kabels was ook te sien.

“Indien almal bloot hul rommel oral gaan weggooi gaan Heidelberg binnekort vol rotte en siektes wees,” het sy gesê.

“Om Heidelberg skoon te kry en skoon te hou is nie net een groep se werk nie, maar is elkeeen se plig om sy deel te doen.

Dit verg dat die gemeenskap sal saamstaan om ‘n verskil te bring.”

Vullis word tot diep in die veld gestort.
Exit mobile version