CrimeLocal newsNews

Skenking van R1 miljoen vir bejaardes word gesteel

Die diewe het die skenking wat bedoel was vir bejaardes asook al die pryse vir die gholfdag, wat volgende week plaasvind, gesteel.

‘n Skenking ter waarde van R1 miljoen, wat bestem was vir bejaarde inwoners aan die Oos-Rand, is Saterdag vanuit ‘n huis in Kempton Park gesteel.

Die skenking van toiletware is aan Solidariteit Helpende Hand gemaak en is by ‘n huis op die hoek van Lily- en Highveldstraat in Kempton Park gestoor, vanwaar vrywilligers van Solidariteit Helpende hand dit sou verpak.

Die plan daarmee was om dit oor die Kersseisoen aan bejaardes van dorpe aan die Oos-Rand te skenk.

Mariolette Vorster, die streeksorganiseerder vir Helpende hand vir die Oos-Rand het gesê dat die organisasie baie geseën was met die skenking van Dermikelp velprodukte.


Die skenking ter waarde van R1 miljoen is in ‘n dubbel motorhuis en woonstel gestoor.

“Ons sou die produkte verdeel sodat bejaardes ‘n Kerspakkie te waarde van ongeveer R1500 kon ontvang,” het sy verduidelik.

“Ons het ‘n perseel in Kempton Park wat ons huur en waar ons al ons voorraad en skenkings stoor. Ons gebruik dit ook as ons streekkantoor.

“Ons het Maandag by die huis gewerk en die produkte in boksies begin pak.

“Hierdie was ons droom projek en ons sou die Kersboksies gedurende die eerste week in Desember begin versprei het,” het Vorster gesê.

“Die skuldiges moes ons dopgehou het aangesien ons Saterdag leeg gesteel is, sonder dat enigiemand onraad vermoed het.”

“Ons is platgeslaan en kan nog steeds nie glo dat alles, behalwe vir ‘n paar boksies wat agter gebly het, gesteel is nie.”

Nog ‘n groot terugslag is die feit dat die diewe ook weggekom het met die pryse, wat ingesamel is vir Solidariteit se gholfdag wat volgende Donderdag (17 November) by die State Mines Gholfklub in Brakpan plaasvind.

“Al die pryse en geskenke wat ons aan die gholfspelers wou gee is ook gesteel,” het Voster gesê.

“Die gholfdag is ten bate van ‘n studiefonds wat ons wil stig vir studente maar dit is ook nou een groot gemors.

 

“Ek weet nie waar ons nuwe pryse in nege dae moet kry of hoe ons steeds met die gholfdag sal kan voort gaan nie.

“Ons wil graag uitreik na die publiek om hul harte oop te maak en ons te help met pryse of skenkings sodat ons nie ons gholfdag hoef te kanselleer nie,” het Vorster versoek.

Sy het ook gevra dat die publiek op die uitkyk moet wees vir enigiemand wat poog om Dermikelp produkte te verkoop.

Die produkte is in groen en wit verpakking.


Die produkte van Dermikelp is in wit en groen verpakking.

‘n Saak is reeds by die SAPD aangemeld. ‘n saaknommer is verkry en die ondersoek duur voort.

Die publiek wat moontlik met inligting na vore kan kom of kan help met skenkings vir die gholfdag word versoek om een van die volgende persone te kontak:

Mariolette Vorster (078 523 2705), Martie De Villiers (082 579 9755) of Patricia Meyer (083 305 3577).

Donateurs sal ‘n Artikel 18A-sertifikaat, waarvolgens vrywillige skenkings van belasting afgetrek kan word, ontvang.

‘n Saak is reeds by die SAPD aangemeld, ‘n saaknommer is verkry en die ondersoek duur voort.

Related Articles

 
Back to top button