Local newsNews

Oortollige items kan ‘n student help

Die wenskool sal aan die einde van die kompetisie R10 000 ryker wees.

Solidariteit Helpende Hand se Heidelberg-tak het ‘n uitnodiging aan skole in Nigel en Heidelberg gerig om deel te wees van die Oos-Randse Ons Winkel Kompetisie.

Die kompetisie het reeds op 24 Oktober in Heidelberg afgeskop en loop aan die einde Julie 2023 tot ‘n einde.

Leerders en ouers word gevra om ou klere, skoene, speelgoed en sport toerusting wat by die huis rondlê en nie gebruik word nie te skenk aan Ons Winkel.

Die skenkings word skool toe gebring en dan kan elke skool self besluit of hulle die skenkings maandeliks of weekliks wil doen.

Met elke skenking word ’n punt aangebied vir die spesifieke skool. Elke maand sal al die punte opgetel word en rekord sal daarvan gehou word.

Ouers en kinders kan ook, indien hulle dit verkies, direk die skenkings by Ons Winkel in Heidelberg of Nigel doen.

As daar groter items rondstaan wat nie gebruik word nie soos ’n wasmasjien of yskaste sal die winkel dit met graagte by die huis gaan optel en die punte aan die individu gee wat ook vir die skool se punte totaal gevoeg sal word.

“Die doel agter die projek is nie net om armoede te verlig nie maar ook om iemand anders te help wat dalk die spesifieke item sal benodig,” het Patricia Meyer, voorsitter van die Heidelberg-tak, gesê.

“Die skenkings wat Ons Winkel ontvang word weer verkoop en ‘n deel van die wins word gebruik om vir studente rentevrye studie lenings beskikbaar te stel.

“Enige matriek student kan by Helpende Hand aansoek doen vir die studentelening. Indien dit goedgekeur word sal die lening maandeliks rentevry terugbetaal word nadat die student klaar studeer het.

“So kan verskeie studente gehelp word om verder te studeer en hulle grade te ontvang.”

Helpende Hand gebruik ook ’n deel van die Ons Winkels se wins vir projekte aan die Oos-Rand soos die Skooltassie-projek, HelpHetta en die Kosblikkie-projek.

Met die Skooltassie-projek verskaf Helpende Hand skooltassies aan kleuters en Graad Een-leerders wat nie ’n skooltassie kan bekostig nie.

HelpHetta verskaf sanitêre ware aan skole wat dit uitdeel aan meisies wat dit nie kan bekostig nie.

Die Kosblikkie-projek dra maandeliks by tot skole se voedingsprojekte.

Die skole sal ook by die kompetisie baat vind. Daar sal koopbewyse beskikbaar gestel word vir die klas wat die meeste invordering en skenkings gemaak het.

Die koopbewyse sal die student van die klas in staat stel om die koopbewyse by die naaste Ons Winkel te gebruik.
Die wenskool aan die Oos-Rand wat die meeste punte met skenkings verdien, sal ’n kontantprys van R10 000 wen asook in die Helpende Hand se ‘saal van faam’ vereer word.

Die wenskool aan die Oos-Rand waar die meeste ondersteunersvorms ingevul word deur persone wat by Helpende Hand wil aansluit, sal ook R10 000 kontant wen.

Vir meer inligting kan Patricia Meyer by 083 305 3577 gekontak word of Nico Janse van Vuuren (Nigel-tak voorsitter) by 060 528 0018.

Related Articles

 
Back to top button