Local newsNews

Historiese gebou in brand verwoes

Die historiese gebou, wat twee prokureurfirmas huisves is in puin gelê deur die brand.

‘n Brand het groot skade aangerig aan die gebou in Voortrekkerstraat 29, Heidelberg Sentraal.

Die dak is erg beskadig.

Die gebou huisves Viljoen en Meek Prokureurs en volgens beskikbare rekords blyk dit of dit in 1913 opgerig is.
Volgens inligting is die brandweer net na middernag op 29 Oktober verwittig van die brand.

Dit blyk of die brand in een van die voorste vertrekke uitgebreek het.
Die historiese hoekstene, wat deel van die gebou is, is erg beskadig. Die plafonne, meubels, mure en deurkosyne het ook in die slag gebly.

Deurkosyne, meubels en historiese hoekstene is verwoes in die brand.

Dokumente wat in die gebou is, kan nog nie verwyder word totdat die ondersoek afgehandel is nie.

“Dit is hartverskeurend om die gebou, wat soveel historiese en geskiedkundige waarde het, so in puin te sien,” het Sakkie van der Berg van die firma gesê.

Nog ‘n prokureursfirma, CJ Human Prokureurs het ook vanuit die gebou besigheid gedoen.
Corrie Human van CJ Human Prokureurs het gesê dat hulle net na middernag ‘n oproep gekry het vanaf Nico du Toit van Sionsbergh dat die gebou aan die brand is.

Groot skade is aangerig voordat die brand onder beheer gebring is.

“Toe ons op die toneel kom was Lesedi se brandweer alreeds besig om die vlamme te blus,” het du Toit gesê.

AfriForum se buurtwag en die GPF het ook uitgehelp tydens die brand.

Tot tyd en wyl sal die firmas vanaf ‘n ander gebou af werk.

Die presiese oorsaak van die brand kon nog nie vasgestel word nie.

Om die personeel van die twee prokureursfirmas te kontak skakel vir Marinda Divito op 071 406 7195, Sakkie by 082 615 9220 of vir Corrie Human by 082 563 6322.

Related Articles

Back to top button