Local newsNews

SATMA toekenning vir plaaslike musiekgroep

Die Vasvas Dansorkes ryg die toekennings in.

Heidelberg, Nigel en Balfour se boeremusiekgroep het onlangs die gesogte SATMA (South African Traditional Music Award) toekenning ontvang.

Die Vatvas Dansorkes word tans beskou as een van Suid-Afrika se beste dansorkeste.

Voor vanjaar se SATMA toekenning het Vatvas alreeds verskeie ander toekennings verwerf.

Dit sluit in die Ghoema, Aitsa, SAMA en Afri Indie-toekennings.

Sedert die groep se bestaan het hulle sover nog elke jaar ‘n toekenning gewen.

Covid-19 het wel ‘n stokkie daarvoor gesteek sodat hulle vir die twee jaar nie lewendig kon optree nie.

Maar gedurende die Covid pandemie het die groep nog steeds musiek gemaak en ‘Facebook live’ konserte gehou.

Die Vatvas Dansorkes het in 2017 die lig gesien en sedertdien het hulle nog nie teruggekyk nie.

Die musiekgroep bestaan uit vier lede Martin Viljoen, Rudie Grobler, Koos van Dyk en Johan Duvenhage.

“Die groep bestaan egter nie net uit ons vier nie. “Ons families is net so ‘n groot deel van die groep, want as dit nie vir ons vrouens en kinders se verstaan en bystand was nie sou die groep beslis nie kon bestaan nie,” benadruk Johan.

“Elke album wat ons vrystel is uniek en ons poog om elke keer iets anders in te bring om die musiek vars te hou,” verduidelik Rudi.

“Die volgende album gaan ‘n techno album wees.”

Martin speel die bas kitaar, Rudie en Johan die elektriese kitaar en Koos speel die tromme.

Vatvas is die afgelope tyd baie besig en word oral bespreek vir optredes.

Vatvas se nuutste CD Kitaar Verlange is nou beskikbaar. Hulle musiek is op verskeie aanlyn musiek toeps beskikbaar.

Related Articles

Back to top button