Voormalige Heidelberger maak film in dorp

Die deelnemers van Sterstatus was in Heidelberg om 'n kort film te maak.

Heidelberg se ou tronk was onlangs die middelpunt van ’n kort film wat in die historiese gebou verfilm is.

Tydens die verfilming, op 8 Augustus, moes die deelnemers van Sterstatus hul talent in toneelspel op die proef stel.

Sterstatus is ’n realiteitsprogram wat op DStv se Via Kanaal vertoon word.

Een van die deelnemers van Sterstatus is ’n voormalige Heidelberger, Lizelle Raulstone, wat in Kaydale op ’n plot groot geword het.

Lizelle was in die Laerskool Tini Vorster in Nigel en vir ’n kort tydjie Hoër Volkskool bygewoon.

Lizelle Raulstone (links) en Madelein Hendricks.

Sy het Kaydale op 19-jarige ouderdom verlaat. Lizelle was eers vir ’n tyd by die vlooimark in Boksburg werksaam, waarna deur tot deur verkope haar voorland was, totdat sy as interne verkoopskonsultant vir ’n groot maatskappy aangestel is.

In die begin van 2022 het Lizelle ’n advertensie raakgesien waarin vroue uitnooi word om in te skryf vir Sterstatus Seisoen 4 op DStv.

“Ek droom al my hele lewe lank om in die vermaaklikheidswêreld te werk. Ek het sonder om te twyfel ingeskryf,” het Lizelle vertel.

Aan die begin van die reeks was daar oor die 100 vroue wat gekies was en met elke episode is daar uitdagings en uitskakeling.

Larissa Bester, die wenner van die vorige Sterstatus reeks.

Die nuutste uitdaging was om ’n kort film te vervaardig en die besluit was om in Heidelberg te verfilm.

Die deelnemers moes alles self doen – van die skryf van die teks tot die toneelspel.

Die direkteur Madelein Hendricks het toestemming van die Heidelberg Heritage Association verkry om die film by die ou tronkgebou te skiet.

Al die deelnemers het by Hoër Volkskool in die koshuis gebly tydens die verfilming.

“Die reis sovêr is ongelooflik en die geleenthede wat Sterstatus ons bied is die beste. Elke vrou het al so baie geleer en het gegroei. Dit is voorwaar ’n platform wat vroue bemagtig,” het Lizelle gesê.

Film vervaardiger Stephen Segal by Heidelberg se ou tronk.

Sy wil graag ’n rolmodel vir ander vroue wees en as haar storie iemand inspireer sal dit die moeite werd wees.
“Ons almal het ’n storie, sommige het dalk meer hartseer as ander.

“Hierdie reis het my gehelp om te genees van die seer in my verlede. Ook in ons groep het ons dames met merkwaardige stories wat my gehelp het om te verstaan dat as ander dit kan doen en oorkom dan kan ek beslis ook,” het Lizelle gesê.

“Heidelberg is ’n besonderse dorp met al sy historiese geboue en om die film te kon maak as deel van vrouedag het dit meer spesiaal gemaak,” het die direkteur, Madelein Hendricks beaam.

Die hoofrolkarakter Nicolene Humpel, het gesê Heidelberg is ‘n ‘diamant van ’n dorp’.

Nicolene Humpel het die hoofrol vertolk in die kort film wat in Heidelberg gemaak was.

Die wenner van die vorige Sterstatus Reeks, Larissa Bester, is die aanbieder van die nuwe seisoen.

Sterstatus Seisoen 4 word op DStv-kanaal 147 uitgesaai.

Exit mobile version