Local newsNews

Cloete sterk aan by huis na hondaanval

Cloete se seun Andries is positief oor sy ma se vordering.

Jaybee Cloete (62) wat op 28 Junie deur ‘n hond aangeval is, sterk aan by die huis nadat sy verskeie kere in die hospitaal opgeneem is sedert die aanval.

“My ma lyk goed,” het haar seun, Andries Cloete, aan HERAUT gesê.

“Die wonde, veral die een aan haar linkerbeen, is groot maar dit lyk goed.

“Ons is positief dat dinge nou net sal beter gaan.”

Cloete is Maandag, 11 Julie uit die hospitaal ontslaan nadat sy verskeie operasies moes ondergaan en behandelinge vir infeksie moes ontvang.

Cloete het tydens die aanval ernstige wonde aan beide haar bene en haar regter bo-arm opgedoen.

Haar gesig en nek het danksy haar dapper geveg teen die hond, ‘n kruising tussen ‘n Staffordshire Terrier en ander rasse, geen beserings opgedoen nie.

Die senuwees en spiere in Cloete se regterkuit is tydens die aanval afgebyt. Sy het sy ook ernstige beserings in haar linker bobeen opgedoen en diep wonde in haar arm.

“My ma het haar voet tydens die aanval geswik en met die beserings aan die been is dit maar moeilik om die voet te gebruik,” vertel Andries.

Volgens Andries is sy ma ook emosioneel sterk na die voorval en rig sy nou al haar aandag op die herstelproses.

“Sy het besef dat haar gedrag en houding teenoor die voorval haar pad na herstel sal beïnvloed,” sê Andries verder.

“Die dokters is positief dat sy binne die volgende twee of drie weke sal kan gaan vir veloorplantings vir die wonde waarvoor daar nie genoeg vel was om tydens vorige operasies toe te maak nie.”

Cloete sal ook in die nabye toekoms met fisioterapiesessies begin om haar te help om weer normaal te loop.

“My ma beweeg rond in die huis met ‘n loopraam vir kort afstande en ‘n rolstoel vir langer afstande,” sê Andries ter afsluiting.

Cloete se familie het vir haar, wat ‘n pensionaris is en nie oor ‘n mediese fonds beskik nie, ‘n BackaBuddy rekening gestig om te help met die dekking van die gesin se mediese onkostes.

Om ‘n bydrae te maak, gaan na www.backabuddy.co.za/jaybee-cloete of maak ‘n betaling aan JB Cloete, FNB spaarreking 62631887512, takkode 250655 en Ref Keep Walking.

Related Articles

Back to top button