Local newsNews

Mr Tiener Wêreld wink vir plaaslike model

‘n Plaaslike inwoner, SJ Pretorius maak sy naam groot in die model wêreld.

SJ Pretorius (18) het op 2 Julie die Mr Tiener Wêreld Suid-Afrika titel ingepalm tydens ‘n skouspel wat in die Staatsteater in Pretoria plaasgevind het.

Hiermee kwalifiseer Pretorius om Suid-Afrika later vanjaar by die Mr Tiener Wêreld skouspel in Ecuador te verteenwoordig.

Pretorius het ‘n ellelange lys gesogte titels agter sy naam.

Dit sluit onder andere in: Tiener Suid-Afrika 2021, Mr Teen Gauteng, Rolemodels SA Gesig van 2020 asook Talent Africa 2020 en Gesig van die Jaar. Om maar ‘n paar te noem.

Toe Pretorius die Mr Tiener Suid-Afrika in 2021 verower het was sy woorde: “Ek glo die wen van die Mr Tiener SA-titel gaan vir my baie deure oopmaak.”

SJ het ook gesê hy hoop om eendag aan groter kompetisies, soos Mnr SA, deel te neem.

Tog was sy loopbaan nie altyd rooskleurig nie.

In 2018 het hy sy nek en rug ernstig beseer tydens ’n rugbywedstryd.

Verskeie operasies, rehabilitasie en terapie het daarna gevolg.

Om sy postuur te verbeter, het SJ by ’n afrondingskool aangesluit.

Pretorius se belangstelling in modelwerk het juis in 2017 begin toe hy aan ’n Eisteddfod se model-afdeling deelgeneem het.

Sy boodskap aan die gemeenskap is: “Die lewe gaan vir jou slaggate in jou pad sit; dit is jou besluit of jy van hierdie blok ’n struikelblok of brug wil maak.

“Enige iets is moontlik. Mens moet positief bly, maak nie saak wat die situasie is nie, dit sal beter word oor tyd,” sê hy.

“My leuse in die lewe is: As jy normaal probeer wees gaan jy nooit weet of jy jou potensiaal kan bereik nie.

“Al wat jy moet doen is glo in jouself en probeer iets verskillend te doen wat jy in die algemeen sal doen.
Pretorius sluit af met, “Ek is so opgewonde oor die toekoms.

“Die beste is nog nie bereik nie en met harde werk sal ek verseker kan bereik waarvoor ek streef.”

Related Articles

Back to top button