News

Heidelberger veg verbete toe hond haar aanval

Jaybee Cloete is met ernstige beserings gelaat nadat sy die hondaanval beveg het.

Jaybee Cloete (62) het op 28 Junie verbete geveg teen ‘n hond wat haar aangeval en herhaaldelik op verskeie plekke aan haar liggaam gebyt het.

Die aanval het haar met ernstige wonde aan haar bene en regter bo-arm gelaat.

Die voorval het die oggend op die familie se kleinhoewe net buite die dorp gebeur toe Cloete deur huurders versoek is om na hul kragboks te gaan kyk.

Terwyl sy op die gemeenskaplike erf op hul kleinhoewe was, het sy opgelet dat die hek na die huurders se erf oopgestaan het.

Die huurders se hond, ‘n kruising tussen ‘n Staffordshire Terrier en ander rasse, het ook op daardie oomblik die gemeenskaplike erf betree.

Die hond het Cloete bestorm en begin aanval.

Die dapper vrou het alles in haar vermoë gedoen om die hond weg te hou van haar nek en gesig, maar verskeie ligamente en spiere in haar bene en regter bo-arm is tydens aanval verskeur.

Cloete het om hulp geroep, en die huurder het haar saam met ‘n tuinwerker te hulp gesnel.

Die tuinwerker, wat anoniem wil bly, is ook tydens die voorval deur die hond gebyt.

“Ek het met my ma en die werker na die Life Suikerbosrand Hospitaal toe gejaag,” het Andries Cloete, Jaybee se seun, wat hom na die kleinhoewe gehaas het, gesê.

“Die werker is dieselfde dag, na behandeling, huis toe gestuur maar my ma moes verskeie operasies ondergaan.”

Die senuwees en spiere in Cloete se regterkuit is tydens die aanval afgebyt en kan sy, as gevolg daarvan, nie haar voet gebruik nie.

Haar linker bobeen is ook ernstig beseer en sy het diep wonde in haar arm.

“Die dokters het reeds verskeie operasies op my ma uitgevoer, waartydens hulle die wonde skoongemaak het en die ligamente en spiere weer geheg het,” het Andries verduidelik.

“Daar is nog drie groot wonde waarvoor daar nie genoeg vel was om dit toe te maak nie.”

Jaybee Cloete was op 28 Junie deur ‘n huurder se hond op hul kleinhoewe aangeval en ernstig beseer. Foto: Verskaf.

Cloete is op 4 Julie uit die hospitaal ontslaan maar is weer op 6 Julie in Springs Parkland Hospitaal opgeneem.
Volgens Andries sou sy ma weer op 7 Julie geopereer word om nog dooie weefsel te verwyder.

Cloete neem ook ‘n sterk kursus antibiotika om infeksie te beveg.

“Die pad vorentoe gaan nog moeilik wees,” het Andries ter afsluiting gesê.

“My ma sal nou fisioterapie sessies moet ontvang om haar te help om weer normaal te loop.
“Sy is ons familie se rots, ons alles.

“Dit is nou ons beurt as familie om haar deur die moeilike omstandighede te dra en te ondersteun.”

Cloete se familie het vir haar, wat ‘n pensionaris is en nie oor ‘n mediese fonds beskik nie, ‘n Back-a-Buddy rekening gestig om te help met die dekking van die gesin se mediese onkostes.

Om ‘n bydra te maak, gaan na www.backabuddy.co.za/jaybee-cloete of maak ‘n betaling aan:

JB Cloete

FNB Spaarreking: 62631887512

takkode: 250655

Ref: Keep Walking

Related Articles

Back to top button