Local newsNews

Helpende Hand stig Nigel-tak

Die nuwe bestuurslede is tydens die takstigting gekies.

Solidariteit Helpende Hand het op 22 Junie ‘n Nigel-tak gestig.

Die takstigting, wat by Ouma Koekies se Kombuis gehou is, is deur talle lede van die gemeenskap ondersteun.

“Ons wil regtig ‘n tak in Nigel stig wat kan uithelp in die gemeenskap,” het Mariolette Vorster van die Helpende Hand Oos-Rand streek gesê.

Helpende Hand het verskeie nasionale projekte wat daarna streef om behoeftiges te help en armoede te veg.

Van die projekte sluit in die voedingsprojek waarmee Helpende Hand daagliks sowat 8000 kinders voed en ‘n skooltassieprojek waarmee die organisasie honderde skooltassies aan behoeftige kinders verskaf.

Ander projekte van die organisasie fokus daarop om bejaardes, gestremdes en selfs ook studente te help met probleme soos befondsing.

Die tak se nuwe bestuur (van links), Marisa Janse van Vuuren (sekretaris), Nico Janse van Vuuren (voorsitter) en Hannes Koekemoer (onder-voorsitter).

Elke tak stuur ook van stapel hul eie plaaslike projekte met die oog op gemeenskapsontwikkeling op grond van die behoeftes wat in die gemeenskap mag voorkom.

Tydens die takstigting is die volgende bestuurslede gekies:

• Nico Janse van Vuuren (voorsitter)

• Hannes Koekemoer (onder-voorsitter)

• Marisa Janse van Vuuren (sekretaris)

Die takstigtingsvergadering is deur die gemeenskap ondersteun.

“Nico is voorwaar ‘n staatmaker,” het Martie de Villiers, voorsitter van die Helpende Hand Springs-tak, gesê.

“Hy dink nie eers een keer as daar op sy knoppie gedruk word nie. Hy daag op en hy help,” het Martie bygevoeg.

Vir meer inligting om deel te vorm van die tak se bedrywighede of om ‘n ondersteuner te word, kontak Nico by 060 528 0018.

Related Articles

 
Back to top button