Bianca op die lang pad van herstel

Bianca Ras toon verbetering nadat sy verskeie operasies moes ondergaan na haar ernstige motor ongeluk op 20 Mei.

Bianca Ras (21), wat op 20 Mei in ‘n ernstige motorongeluk was, sterk steeds in die Netcare Garden City Kliniek in Johannesburg aan.

(HERAUT het in die uitgawe van 8 Junie hieroor berig: Heidelbergers staan saam vir beseerde Bianca)
“Bianca, wat op die oomblik net haar regterhand kan gebruik, word tans deur mediese personeel bygestaan om te help met die herstelproses,” het haar ma, Charmaine Rossouw gesê.

“Party dae beleef ons maar slegte dae en dan is daar weer baie goeie dae sê,” Rossouw verder. Die goeie nuus is dat Bianca nie meer van suurstof afhanklik is nie en dat haar long besig is om goed te herstel. Tog is daar nog nie uitsluitsel oor die feit dat Bianca moontlik verlam sal wees nie.

Bianca het wel ‘n bietjie van ‘n gevoel in haar regterbeen, maar geen beweging in haar bene en voete nie.

“Dit is verblydend dat my kind se brein nie in die ongeluk iets oorgekom het nie. Bianca verstaan heeltemal as daar met haar gepraat word,” sê Rossouw. Daar is wel verlamming aan die linkerkant van haar gesig. Die dokters hou dit baie fyn dop met die hoop dat dit sal verbeter. Die volgende stap vir die jong vrou sal rehabilitasie wees, sodra sy sterk genoeg en opgewasse daarvoor is. ‘n Fisioterapeut help om Bianca van tyd tot tyd in ‘n stoel te kan kry om te sit.”

Van die beserings wat sy opgedoen het, het ingesluit bloeding op die brein, ‘n gebreekte rug, platgevalle long, gebreekte ribbes, gebreekte skouer en ‘n milt wat geskeur was. Charmaine is deurentyd by haar kind en bly tydelik naby die hospitaal om soveel tyd moontlik by haar te kan deurbring.

Sy is ‘n plaaslike haarkapster in Heidelberg, maar weens die feit dat sy deurentyd by Bianca is, verdien sy op die oomblik nie ‘n inkomste nie. Sy is ‘n enkel met nog ‘n seun van 15 jaar.

Sodra Bianca sterk genoeg gaan wees om ontslaan te word sal die gesin ‘n ander woonplek moet kry.

Die woonstel waarin hulle tans woon sal nie geskik wees om aan Bianca se behoeftes te voorsien nie.

Exit mobile version