Local newsNews

Harde werk van inwoners tot niet

Die bome wat in September geplant is deur lede van die gemeenskap is vermoedelik deur die Stad se Parke Departement afgesny.

Die bome wat verlede jaar in September deur die gemeenskap onder leiding van Earth Owl en die Khuthaza Foundation geplant is, is onlangs afgesny.

“Ons, tesame met die gemeenskap, is bitter ongelukkig oor die gebeurtenis,” het Roché Pepler van Earth Owl vertel.

“Al ons harde werk van verlede jaar is tot niet,” het Pepler bygevoeg.

“Ons wil ons bome terug hê.”

Die gemeenskap het op 11 September saamgekom om sowat 150 inheemse bome by die ingang tot Nigel te plant.

Pepler meen dat dit vermoedelik die Stad van Ekurhuleni se parke departement was wat die bome, waarvan sommige alreeds 1.5m hoog gestaan het, afgesny het.

Epson Motors, wat die verantwoordelikheid vir die ingang se instandhouding met die munisipaliteit deel, het aan Pepler verduidelik dat dit die derde keer was wat die gras gesny is sedert die bome geplant is in September, maar dat dit die eerste keer is wat die bome ook gesny is.

Die Stad van Ekurhuleni se parke afdeling het vermoedelik die bome afgesny. Foto: Wollaston Labuschagne.

“Epson Motors het ’n Step-Up veldtog met die munisipaliteit opgeneem,” het Pepler verduidelik.

“Dit beteken dat hulle as die maatskappy verantwoordelikheid neem vir die ingang. Daar is verskeie opsies hiermee beskikbaar, onder andere die plant van bome of plante of dat jy vir die onderhoud van die ingang verantwoordelik is terwyl die munisipaliteit steeds verantwoordelik is vir die sny van die gras, byvoorbeeld.

“In hierdie geval was die munisipaliteit steeds verantwoordelik vir die sny van die gras by die ingang. Hulle moes geweet het dat daar bome is. Ek het geen idee wat die rede kon wees dat hulle net bo-oor die bome gery het met die snyer nie.”

DA raadslid Wollaston Labuschagne meen dat hy self ook besig is om ondersoek in te stel rakende die voorval. Hy het op 12 April ’n e-pos aan die Nigel Parke Depot gestuur om agter die kap van die byl te kom.

“Die Nigel Parke Depot bestuurder het aangedui dat sy weet wie die verantwoordelike trekker bestuurder is,” het Labuschagne gesê.

Bianca Wannenburg besig om ‘n boom te plant tydens die gemeenskapsprojek in September.

“My opinie is dat die verantwoordelike persoon sy nalatigheid moet erken en hulle ’n verskoning moet aanbied. Ek dink ook dat die Parke departement die bome moet vervang.”

Pepler het gesê: “Ons dring daarop aan dat die munisipaliteit ’n formele verskoning aan ons moet rig en die bome moet vervang. Dit moet dieselfde bome wees en hulle moet dit vir ons plant.”

Die HERAUT het op 14 April die Stad van Ekurhuleni genader vir kommentaar. Teen druktyd is geen terugvoering ontvang nie.

Related Articles

Back to top button