News

Leer ons mense ken: Nita Alberts

Nita Alberts is bekend vir haar betrokkenheid by die kunsgallery, Staxx Stationers and Art Supplies.

Nita Alberts (47) is ’n kunsliefhebber van Nigel wie se liefde vir die kunste in die dorp tot ’n kunsgallery, Staxx Stationers and Art Supplies, gelei het. Sy is getroud met Wikus Alberts en saam het die egpaar drie kinders.

Hoe lank woon jy al in Nigel?

Ek kom oorspronklik van Wolmaransstad in Noordwes, waar ek op ’n plaas groot geword het. Na skool is ek tegnikon toe waar ek my man, wat sy lewe lank ’n Nigeliet is, ontmoet het. Ons het na ons troue vir so vyf jaar in Nigel gewoon voor ons die pad gevat het Cradock toe in die Oos-Kaap. Vandaar was ons na Leeudoringstad en in 2007 het ons weer terug getrek na Nigel.

Waarom het jy besluit om die kunsgallery oop te maak?

Ons was een jaar op vakansie in die Kaap en in Mosselbaai het ons op ’n kunsgallery afgekom wat absoluut my hart gesteel het. Vandaar af het ek drome gehad om iets soortgelyk hier oop te maak.

Is jy nog altyd lief vir kuns?

Alhoewel ek nie self vreeslik kunstig is nie, het ek nog altyd waardering gehad vir mooi kuns. Ek kom uit ’n kunstige familie en is van kleintyd af blootgestel aan kuns. Mooi bly maar mooi.

Wat is jou stokperdjie?

Ek is lief vir lees.

Waarvan hou jy glad nie?

Die winter! Ek haat dit om koud te kry.

Wat is jou grootste droom?

Daar is so baie. Maar dalk om ook eendag iets te skilder wat die hele wêreld sal gaande hê! Ek wou ook al ’n boek geskryf het. Miskien eendag.

Waar hou jy graag vakansie?

My gunsteling vakansieplek is die wildtuin. Maak nie saak of dit die Kruger of Pilansberg is nie. Die natuur bring lafenis vir mens se siel.

As jy een ding kan verander, wat sal dit wees en hoekom?

Mense. Ek sou so graag al die haat, nyd en afgunstigheid van mense wou laat verdwyn. Kom ons kíes om die mooi in ander raak te sien en kom ons kíes om ons Goddelike opdrag van, “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” uit te voer. Ongeag wat, dit ís ’n opdrag van God.

Wat is jou boodskap aan die gemeenskap?

Ons is so ongelooflik bevoorreg om in Nigel te woon. Ons dorp word goed versorg en daar is soveel organisasies en individue wat hul bes doen om ons dorp skoon en veilig te hou. Kom ons ondersteun mekaar en ons plaaslike besighede sodat ons dorp kan groei. Die son is groot en warm genoeg om oor elkeen te skyn.

Related Articles

Back to top button